GEORGE NUUS - Twee geesdriftiges het onlangs die nasionale eksamen vir radioamateur-entoesiaste in George afgelê en met vlieënde vaandels geslaag.
Eden-radioklub het Gisbert Schulze van George en Johan Brittz van Uniondale geluk gewens met hul uitstekende prestasie en gesê hulle sien daarna uit om hulle spoedig op die lug te kry.
Schulze en Brittz het baie ure ingesit ter voorbereiding vir die eksamen, waar hulle 'n minimum van 50% in elk van twee afdelings, asook 'n algehele minimum van 65%, moes behaal om te slaag.
Daarby moes hulle ook onder toesig van amptelike assessors van die SARL (Suid-Afrikaanse Radioliga) 'n radiostasie opstel en met vyf persone (QSO's of radiokontakte) kontak maak onder hulle klub se roepsein.
Albei het A's gekry vir beide die tegniese en regulasie-afdelings van die eksamen.
Eden-radioklub is 'n geregistreerde SARL-eksamenlokaal in George en beskik oor twee bekwame SARL-assessors, Willie Hewitt en Corné Conradie.
Hewitt en Conradie is aangestel om die RAE (radioamateur-eksamen) onder streng SARL-reëls en die oorsig van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (ICASA) te administreer.
Enigeen wat belangstel om by die Eden-radioklub aan te sluit, kan hullekontak by Edenradioclub@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Artikel beskikbaar deur HIER te klik.
- George Herald