Showing posts with label Social Gatherings. Show all posts
Showing posts with label Social Gatherings. Show all posts

Tuesday, July 22, 2025

Rekord Byeenkoms van Radio Amateurs / Gades / Jongmense te Blandsdrift, Mosselbaai (Saterdag 19 Julie 2025)

Foto:  Ontwerp en saamgestel deur Natasha vd Westhuizen LV van Jasper ZS1WT


Radio Amateurs, Gades en Jongmense: (Links agter tot Regs voor op grond)  Johan Terblanche ZS1I, Jan Leonard ZS1CBS, Danie Leonard ZS1DL, Jasper vd Westhuizen ZS1WT, Nico van Rensburg ZS1ZAN, Jimmy Haddow ZS1RB, Bryan King ZS1SSS, Mark Sanderson ZS1SSM, Elna Sanderson ZS1EAS, Vivian Lourens ZS1VIV, Jacobus de Jager ZS1JDJ, Gerrit Klopper ZS1KLO, Natasha vd Westhuizen (Gasvrou), Nick Smit ZS1NS, Thys Louw ZS1TBP,  Daniel Swart ZS3DS, Francois Joubert ZS1Q, Johanna Joubert (LV), Lisa Blank (Dogter ZS1MMB), Gerhard Coetzee ZS1TG, Eddie Scott ZS1EGS, Elize van Rensburg (LV),  Kevin Thurling ZS1ABU, Ingrid Lourens (LV), Anne-Marie Klopper (LV), Angelique Klopper (Dogter),  Louisa Smit (LV), Marlise Swart (LV), Caro Neu (LV), Marco Neu ZS1NEU, Albie Wentzel ZS1SE, Ingo Berger ZS1IB, Danie Joubert ZS1DBJ, Nicolene Becker ZS1HAR, Johann Becker ZS1AAC, Michael Blank ZS1MMB, Rassie Pretorius ZS1RP, Rola Pretorius (LV), Martha Terblanche (LV), Larissa vd Westhuizen, Linelle vd Westhuizen (Dogters ZS1WT) en Janeke de Jager (Dogter ZS1JDJ).  Fotograaf: Debbie Blank


Radio Amateurs:  Eddie ZS1EGS, Vivian ZS1VIV, Jan ZS1CBS, Johan ZS1I, Jimmy ZS1RB, Danie ZS1DJ, Nico ZS1ZAN, Francois ZS1Q, Bryan ZS1SSS, Jasper ZS1WT, Gerhard ZS1TG,  Gerrit ZS1KLO, Nick ZS1NS, Danie ZS1DBJ, Thys ZS1TBP, Ingo ZS1IB, Daniel ZS3DS, Mark ZS1SSM, Marco ZS1NEU, Keverne ZS1ABU, Rassie ZS1RP, Nicolene ZS1HAR, Johann ZS1AAC,  Albie ZS1SE, Elna ZS1EAS, Jacobus ZS1JDJ en Michael ZS1MMB.

English PDF version available HERE

Die byeenkoms van Suid Kaap radio amateurs wat bekend staan as die ZS-Link Netwerk Groep op Saterdag 19 Julie 2025 was 'n rekord byeenkoms en sal aangeteken word was die grootste byeenkoms  tot op hede van radio amateurs ooit in die gebied.  Die byeenkoms het plaasgevind op die plaas Blandsdrift, Mosselbaai van Jasper ZS1WT en Natasha (LV) met hulle  twee jonge dogters Larissa en Linelle.  As gasheer en gasvrou het die Van Der Westhuizen's hulle weereens oortref.  Ons kon nie gevra het vir 'n beter plek om 'n byeenkoms te hou nie.  Baie dankie aan Jasper en Natasha vir hul gasvryheid en natuurlik ook vir die talle reëlings wat hulle getref het om alles glad te laat verloop.

Foto:  Jasper en Natasha vd Westhuizen (Gasheer en Gasvrou van  die byeenkoms)

Die plaashek het om 09h00 geopen vir besoekers.  Voor die tyd was daar verskeie voertuie oppad na die byeenkomplek en het die Aasvoekop Herhaler (145.625 Mhz) behoorlik gegons.  Die manne en vroue was opgewonde en kon nie wag om mekaar weer in die oë te kyk nie.  Voor ons deur die plaashek beweeg het was ons oppad verras deur talle wilde diere wat nuuskierig na die besoekers gestaar het.  Van die diere:  Tarentale, Ganse, Verskeie Wildsbokke, Blou Kraanvoels en natuurlik twee van die groot vyf wat sommer neffens die grensdraad rustig gestaan en wei het. 

Die son het effens laat sy kop uitgesteek weens 'n mis-lagie maar dit was duidelik dat dit 'n perfekte 19 grade celsius dag gaan wees.  Net wat ons nodig gehad het, maar sou dit koud wees was daar altyd die groot staal stoor waar skuiling gevind kon word.  Dit was egter nie op die dag nodig nie.  Die besoekers het tussendeur opgedaag en teen 10h30 het die meeste reeds gearriveer en 'n stoele lager getrek voor die staal stoor in die lekker oggend son.

 

Besoekers was getrakteer deur Natasha met koffie, tee of 'n lekker koppie warm sop, broodjies, koekies, beskuit en muffins.  Sommige besoekers het nie tyd gehad vir ontbyt nie en kon hulle die innerlike behoorlik versterk vir die dag.  Dit was ook nie lank nie en die bedien tafels het behoorlik gepryk met al die slaaie en broodjies wat vir middagete genuttig sou word.


Na die aankoms van Johann ZS1AAC en Nicolene ZS1HAR is die ZS Link Netwerk Groep Naamplaatjies wat vooraf bestel was uitgedeel sodat almal vinnig mekaar kon leer ken.  Daar was immers 43 mense teenwoordig en sommige het mekaar vir die eerste keer ontmoet.  'n Spesiale woord van dank aan Natasha (ontwerper van die naamplaatjies),  Johann ZS1AAC, Nicolene ZS1HAR en Johannes ZS1XL vir hul bydrae tot die projek.  Daar word beplan om vorentoe nog naamplaatjies te maak en 'n aankondiging op die 625 WhatsApp groep sal gelegener tyd gemaak word.

Daar was ook 'n verassing wat Johann ZS1AAC bekend gemaak het.  Die ZS Link Netwerk Groep het nou ook 'n geleentheids banier danksy 'n briljante idee van Vivian ZS1VIV en ontwerp deur Natasha.  Viv het Vrydag oggend met die voorstel gekom en sommer ook gereel dat die banier gemaak word.  Die banier is deur Rassie ZS1RP en sy LV  Rola onthul wat al die pad vanaf Stilbaai gekom het.  Aan Oom Rassie ZS1RP en Tannie Rola Pretorius wil ons graag 'n spesiale dankbetuiging oordra vir hul teenwoordigheid by die byeenkoms.  Ons besef dat dit somtyds groot opoffering verg om byeenkomste by te woon.   Julle twee was en is die toonbeeld miskien nog beter, die voorbeeld vir ons almal wat daar teenwoordig was.  Dit was 'n voorreg om julle twee saam met ons te kon hê op die besondere dag.  Baie dankie vir julle opoffering in die verband.

Na die heerlike ontbyt was dit tyd om net lekker te sit en te gesels met mekaar maar dit was natuurlik ook tyd vir die vlooimark/kattebak verkoping want sien die een se "gemors" is die ander se "goud".  Toerusting het van hok verwissel en daar is gekyk en beduie, maar natuurlik ook so bietjie geredekabel oor die prys en funksionaliteit van die toerusting.  Daar was heelwat om van te kus en te keur en kort voor lank was van die tafels en kattebakke nie meer so "gepak" gewees nie.   Natuurlik is dit na ander kattebakke voor die LV's kon sien wat aangekoop was.


Fotos hierbo: "HF/VHF/UHF "Go-Box" met Xiegu G90 HF Radio en 'n  QYT Dual Band VHF/UHF Radio, USB Radio Koppelstuk vir Digitale Modusse, Luidspreker, Battery, Kragbron en verskeie ander toebehore.

Die volgende op die aktiwiteite lys was 'n demonstrasie deur Gerrit ZS1KLO en Michael ZS1MMB. Gerrit ZS1KLO het sy "Go-Box" of "Shack in a Box" wat hy gebou het gedemonstreer. Gerrit het aangedui dat hy die dra-tas saam met hom neem wanneer hy mobiel reis of wanneer hy 'n veldstasie wil oprig. Hy dui aan dat die draagbare hok in 'n harde tas goed werk en dat dit ook 'n ware aanwins is vir noodkommunikasie.  


Michael ZS1MMB het ook 'n demonstrasie gelewer van sy antenna driepoot wat hy gebruik vir draagbare radio aktiwiteite.  Hy het aangedui hoe maklik dit is om 'n antenna vinnig te monteer en dan te gebruik.  Die driepoot is lekker groot en sterk genoeg om ander antennas ook te huisves.

Die radio amateurs het behoorlik die "Go Box" en Antenna Driepoot ondersoek, vrae gevra en natuurlik ook uitgewerk hoeveel dit Gerrit en Michael uit die sak gejaag het.  Desnieteenstaande 'n goeie aanwins van beide die projekte in amateur radio.


Die tyd het nie stilgestaan nie en voor ons kon kyk was dit tyd vir die volgende demonstrasie.  Dit het behels hoe om SSTV uitsendings vanaf die Internasionale Ruimte Stasie (ISS) af te laai.  Wel die ISS het mooi saamgespeel en was daar 'n goeie verbyvlug om 11h58 SAST teen 'n maksimum elevasie van 56.2 grade elevasie op die plaas.  Die volgende radio amateurs het deelgeneem aan die demonstrasie:  Jacobus ZS1JDJ,  Gerrit ZS1KLO,  Nico ZS1ZAN

Hier is die prente/beelde wat afgelaai is:

Jacobus ZS1JDJ:


Toekenning ontvang vanaf ARISS:


Gerrit ZS1KLO:



Toekenning ontvang vanaf ARISS:

Opmerking:  Die bostaande prente is afgelaai dmv Robot36 wat op 'n selfoon geinstalleer is en 'n 2m Handstel met 'n "rubber duck" antenna.  Daar was groot belangstelling deur verskeie radio amateurs in die demonstrasie.  Hopelik neem heelwat nuwe radio amateurs deel aan die volgende SSTV uitsendings vanaf die Internasionale Ruimte Stasie. (ISS)


So het middagete aangebreek.  Marco ZS1NEU het die tafel gebed gedoen en is daarna behoorlik weg gele aan al die slaaie en worsrolle met die egte plaas boerewors daarin. Baie dankie aan VIV ZS1VIV en Jasper ZS1WT vir die braai van die wors.  Natuurlik was daar baie morele ondersteuning van ander radio amateurs by die braai vuur.

O! amper vergeet ek van die tuisgemaakte wors wat Jasper en sy dogters voorberei het.  Larissa een van Jasper se dogters het gesorg dat die vleis vir die lekker wors gemaal word.  Ja, 'n ware boere dogter wat pa en ma kan bystaan op die plaas.  Soos voorheen 'n besonderse smaak want net die beste skaap vleis is uitgekies tesame met die nodig vet en speserye.  Verhouding 60:40 en net reg vir die kole.  Smaaklik geen senings of uitheemse speserye nie.  Soos die boere van ouds wors kon maak.  Sag en sapperig.  Moet se ek dink nie daar het veel indien enige wors oorgebly nie.  Maar wag, van die dames het gesorg vir die aller lekkerste slaaie en worsbroodjies.  Die worsbroodjies is spesiaal ingevoer vanaf Stilbaai deur Johann ZS1AAC en Nicolene ZS1HAR, vars en lekker uitgebak.  Jy kon nie vir beter gevra het nie.  

Die besoekers het almal lekker gesmul aan die smaaklike middag ete.  Dit was dan natuurlik ook die stilste periode van die dag want die innerlike moes eers versterk word sodat daar verder gekuier en gesels kon word.  So tussen deur is die tafel vir 'n tweede keer besoek. Baie groot dank aan almal wat  behulpsaam was met die kos voorbereiding, verwerking en braai van die egte plaas wors.  Dit word opreg waardeer.  Met die innerlike versterk is daar weer verwoed gekuier want sien die son trek water.  

Na ete was dit tyd om die ZS Link Netwerk Groep Herhaler Fonds 'n hupstoot te gee.  Die manne, dames en jongmense se hande was behoorlik oop gewees.  Weet nie of sommige gedink het die betalings is vir die ete nie .... hi hi.  Die beursies was behoorlik oopgemaak. 

Eerstens was daar heelwat anonieme donasies ontvang wat tot die fonds toegevoeg is. Baie dankie aan almal wat 'n donasie gemaak het tot die fonds, in watter formaat ook al.  Julle bydrae word opreg waardeer.  

Tweedens was daar die verkope van  die Easy-Pull Muurprop Handvatsels.  Daar was behoorlik tou gestaan om van die handvatsels te bekom.  Die muurprop handvatsel maak dit maklik om 'n muurprop uit die muur-eenheid te trek.  (Sien photos)

Die muurprop handvatsel was baie populêr op die dag maar ek dink almal het gewag vir die hoogtepunt van die dag nl. die gelukkige trekking van 'n Baofeng Radio Handstel.  Lootjies was verkoop vir R25 elk en was daar maar twyfel of ons die waarde sal opmaak van wat die radio gekos het. Daar is behoorlik tougestaan deur oud en jonk om kaartjies aan te koop. Baie dankie aan Danie ZS1DL wat die radio geskenk het om fondse in te samel vir die herhaler fonds.  Danie se skenking het to gevolg gehad dat die herhaler fonds 'n hewige hupstoot ontvang het.  In totaal is daar 53 kaartjies tydens die byeenkoms verkoop.  Die gelukkige trekking is waargeneem deur Natasha vd Westhuizen (gasvrou).  Lootjie Nr 21 is getrek en Francois ZS1Q was aangewys as die gelukkige wenner van die Baofeng Radio Handstel.


Fotos: 2m Baofeng Radio Handstel en Francois ZS1Q

Soos blits was die dag verby en was dit weer tyd om huiswaarts te keer maar nie voordat daar weer verwoed gekuier is nie.  Kort voor lank het die son begin verflou, 'n aanduiding dat daar huiswaarts gekeer moes word maar nie voor daar dankie gesê is nie.

Dankbetuiging:  Dit is altyd moeilik om te verseker dat mens nie iemand uitlaat of weglaat wanneer dit kom by dankbetuiging nie.  Daarom gaan ek dit kort en kragtig hou. Eerstens wil ek ons Hemelse Vader bedank vir die mooi dag asook die seëninge wat ons ontvang het op die dag om lekker saam met vriende te kon kuier. Tweedens 'n besonderse woord van dank aan Jasper ZS1WT en sy LV  Natasha en kinders vir al die opofferings / voorbereidings ens wat julle getref het on die dag vir ons 'n groot sukses te maak.  Dit word opreg waardeer!  Derdens sou dit uiters onvanpas wees as daar nie 'n dankbetuiging oorgedra word aan al die LV's (dames, gades, wederhelftes) nie.  Ek het reeds vermeld dat dit werklik met groot dankbaarheid en waardering is dat ek al die LV's wil bedank vir hulle teenwoordigheid.  Julle teenwoordigheid word hoog op prys gestel.  Vierdens aan almal wat nie genoem is nie.  Ek weet nie wie dit almal is nie, maar 'n besonderse dank aan elkeen wat bygedra het tot die sukses van die dag.  Dankie aan al die fotograwe. Fotos vertel 'n storie en sonder fotos sou die artikel maar vervelig gewees het.

'n Besonderse dank aan al die seniors wat teenwoordig was en wat ook opofferings gemaak het om daar te kon wees.  Ek wil nie graag name noem nie want ek mag dalk iemand in die proses uitlaat.  Baie dankie dat julle ook teenwoordig was.  Ek weet dat daar van julle is wat ook onder moeilike omstandighede julle weg oopgesien het om saam te kon kuier op die dag.  Baie dankie aan almal van julle!

Dankie aan almal wat teenwoordig was.  Sonder julle sou dit nie dieselfde gewees het nie. Dan aan die talle radio amateurs wat graag daar wou wees maar weens omstandighede nie teenwoordig kon wees nie.  Sien julle volgende keer en moet nie weer so 'n geleentheid misloop nie!  Julle het 'n besonderse byeenkoms gemis.  Ons sien daarna uit om julle by die volgende geleentheid te sien en te ontmoet.  Kom ons kyk of ons nie die huidige rekord kan breek met die volgende byeenkoms nie.

Besonderse dank ook aan Nico ZS1ZAN en Elize sy LV wat al die pad vanaf Zandfontein (Anysberge) gery het om die byeenkoms by te woon.  Nico en Elize het dan ook die verste rit onderneem om die byeenkoms by te woon.  Merkwaardig inderdaad en dankie vir julle teenwoordigheid.

Baie dankie aan almal wat bygedra het tot die herhaler fonds. 'n Ses syfer bedrag is ingesamel tydens die byeenkoms!!

Laastens maar nie die minste nie.  Wat word bedoel met 'n Rekord Byeenkoms van Radio Amateurs in die Suid Kaap.  Na my beste wete was daar nog nooit so 'n groot en genotvolle byeenkoms van Suid Kaapse radio amateurs nie.  Ons mag nie vergeet van die gades en jongmense wat teenwoordig was nie.  Hul bywoning en bydrae tot amateur radio is ook merkwaardig in die Suid Kaap.  Dit was en is werklik verblydend om so baie LV's by die bymekaarkoms te sien asook hulle spontane deelname en ondersteuning. Dankie aan al die dames vir die opofferings wat julle gemaak het asook bywoning.

'n Nuwe bywonings rekord is ook opgestel vir Suid Kaap Radio Amateurs, Gades en Besoekers: 

So bietjie statistiek:  

Totale Persone teenwoordig op die dag:  43 

Totale Suid Kaap Radio Amateurs teenwoordig op die dag:  27

Ek is bewus van talle radio amateurs wat daagliks op die Aasvoelkop herhaler inskakel dmv die ZS Link Netwerk en wat in ander provinsies woonagtig is wat ook graag die byeenkoms sou wou bywoon.  Dankie aan julle wat vooraf beste wense en verskonings aangestuur het vir die dag en ook aangedui het dat julle in die gees saam teenwoordig sal wees. Julle wense word waardeer en is 'n toonbeeld van die amateur radio gees wat onderling  heers in die ZS Link Netwerk Groep.  Wie weet miskien eendag dan ontmoet ons van aangesig to aangesig.  Niks is onmoontlik nie!

Soos dit maar gaan kan die lekker kuier nie verewig aanhou nie en so teen 15h00 het die eerste besoekers wat ver moes ry gegroet en vertrek na hulle tuistes toe.  En was daar nou behoorlik blad geskud nie, party sommer twee keer want sien ons weet nie wanneer ons mekaar weer van oog tot oog gaan sien nie.  Gelukkig is daar amateur radio en gaan ons mekaar gereeld hoor op die lug. So al kan ons mekaar nie gereeld in lewende lywe sien nie, maak amateur radio dit moontlik om kontak te behou.

Al wat oorbly is om te vra wanneer is die volgende byeenkoms van die klomp dinamiese radio amateurs, gades en jongmense in die Suid Kaap? 

Ek kan bevestig dat Jasper ZS1WT en Natasha (LV) reeds aangebied het dat die 2026 byeenkoms weer op Blandsdrift sal plaasvind. Verdere besonderhede sal mettertyd op die 625 WhatsApp groep geplaas word.

Laastens - Jasper ZS1WT skryf:  Soos die son lang skaduwees maak kom ons tot die einde van, wat ek dink n suksesvolle dag vir radio amateurs in die Suid Kaap was. Baie dankie aan elkeen wat moeite gedoen het en deel was van die hierdie besonderse bymekaarkoms van opgevoede mense. Nie een papiertjie wat rondlê of iets uit sy plek nie. Wat n voorreg om jul almal hier te ontvang het op Blandsdrift.

Fotos (Klik op fotos om te vergroot)

 












Monday, July 8, 2024

Geskiedkundige byeenkoms van Radio Amateurs / Gades / Jongmense te Blandsdrif in die Suid Kaap (Saterdag, 6 Julie 2024)

Radio Amateurs:  (Links na regs agter)  Gerrit ZS1KLO, Danie ZS1DL, Jimmy ZS1RB, Henk ZS1AAD,  Thys ZS1TBP,   Marco ZS1NEU,  Johan ZS1I,  Ingo ZS1IB, Mark ZS1SSM.  (Regs na links voor)  Elna ZS1EAS,  Albie ZS1SE,  Nick ZS1NS,  Jasper ZS1WT,  Michael ZS1MMB,  Rassie ZS1RP,  Nick ZS1N,  Nicoleen ZS1HAR en Johann ZS1AAC.  Inlas fotos:  Lynnore ZS1DPW en Dolf ZS1DRP.

Radio Amateurs, Gades, Vriende en Jongmense:  (Links na regs agter)  Gerrit, Jan, Danie, Jimmy, Thys, Johan, Nick, Ingo, Mark, Joanie, Henk.  (Regs na links voor) Rassie, Rola, Nechita, Elna, Albie, Louisa, Jasper, Marco, Michael, Nick, Nicoleen en Johan.  (Sittende links na regs)  Jonge dame, Caro en Natasha.  

English version of this article available  HERE

Die byeenkoms van Suid Kaap radio amateurs, gades, vriende en jongmense op Saterdag, 6 Julie 2024 sal aangeteken word as 'n geskiedkunige gebeurtenis.  Die byeenkoms het plaasgevind op die plaas Blandsdrif, Mosselbaai van Jasper ZS1WT en sy LV Natasha wat as gasheer en gasvrou opgetree het tesame met hul twee jonge dogters.

Foto:  Jasper en Natasha vd Westhuizen (Gasheer en Gasvrou van die byeenkoms)

Ek verskaf graag inligting rondom die verloop van die byeenkoms.  Die weer was natuurlik die grootste faktor wat sou bepaal hoeveel mense opdaag vir die byeenkoms.  Met ligte oornag reen en gepaardgaande  koue wat voorgekom het vanaf Donderdag 4 Julie tot Vrydag 5 Julie was daar twyfel of die weer sou saamspeel.  Wel Saterdag 6 Julie 2024 was daar nie 'n teken van enige reen of koue wolke nie.  Die son het geskyn en gelukkig was daar nie sterk winde nie.  Die intense koue front wat voorspel is was glad nie te bespeur op Saterdag nie maar sou wel sy verskyning Sondag oggend maak in Mosselbaai.  Ons kon nie gevra het vir beter weer nie as daar in gedagte gehou word dat ons tans in die middel van winter is nie.  

Die byeenkoms was gereel vanaf 9h30 vir 10h00 maar teen 9h30 was daar al heelwat vriende wat reeds opgedaag het.  Teen 10h00 het meeste reeds gearriveer.  Koffie, koekies en beskuit was beskikbaar soos die vriende geariveer het. Nadat die koffie en verversings die innerlike gevul het is daar begin om die veldstasie op te rig.  Sien daar moet altyd iewers radios betrokke wees by enige  bymekaarkoms van radio amateurs.  Handstelle en mobiele radios en antennas was orals sigbaar en dit was nie lank nie of die eerste HF kontak is bewerkstellig vanaf die Kenwood TS450S radio van Michael ZS1MMB.    Twee HF antennas is opgerig,  n End Fed Dipole en 'n tuisgeboude vertikale antenna.  Band toestande was nie wonderlik nie maar daar is darm 'n paar kontakte gemaak.  Baie dankie aan Michael ZS1MMB en Nick ZS1N vir die beskikbaarstelling van toerusing asook bedryf van die stasie en al die ander helpers wat 'n bydrae gelewer het.

Is die Aasvoelkop Herhaler sigbaar vanaf Blandsdrif? Siende dat die plaas van Jasper en Natasha naby gelee was aan die herhaler wou van die vriende kyk of hulle nie die 145.750 Mhz Aasvoelkop Herhaler kon sien met 'n verkyker nie.  Marco ZS1NEU het die leiding hier geneem en gou gou is daar 'n driepoot verkyker staangemaak en het die manne en dames Aasvoelkop bespiet so neffens die twee plaas sleepwaens van Jasper.  Die radio toring was met die blote oog ook sigbaar maar die verkyker het die toring soveel nader gebring.  Volgens Marco was daar nie enige ongewensde elemente gesien nie en het hy die groen lig gegee dat alles nog in orde was by die herhaler.

Dit was duidelik dat die meeste vriende uitgesien het na 'n lekker kuier.  Radio besprekings is met tye opsy geskuif net om lekker te kon saam kuier en "lippe te klap".  Daar was nou behoorlik gekuier,  in die geskiedenis terug beweeg, oor die alle daagse gesels, staaltjies uit die verlede en vele meer, te veel om hier op te noem.  Ek kan net byvoeg dat ek lanklaas indien ooit opgemerk het dat manne, vroue en jongmense so lekker gekuier het. Elkeen teenwoordig het bygedra tot die aangename kuier maar later meer hieroor. Die tyd het te vinnig verby gesnel en voor ons besef het was dit tyd vir middag ete.

Lekker droe hout is staangemaak in die braaier en 45 minute later was daar wors in die rooster op die kole.  Maar daar is fout, die wors lyk nie soos die wat jy in die slaghuis of winkels koop nie.   Want sien dit is tuisgemaakte, skaap wors wat Jasper ZS1WT self gemaak het.  'n Besondere smaak want net die beste skaap vleis is uitgekies tesame met die nodig vet en speserye.  Verhouding 60:40 en net reg vir die kole.  Smaaklik geen senings of uitheemse speserye nie.  Soos die boere van ouds wors kon maak.  Sag en sapperig.  Moet se ek dink nie daar het veel indien enige wors oorgebly nie.  Maar wag, van die dames het gesorg vir die aller lekkerste slaaie en worsbroodjies.  Die worsbroodjies is spesiaal ingevoer vanaf Stilbaai, vars en lekker uitgebak.  Jy kon nie vir beter gevra het nie.  

Opmerklik was dat die gasheer en gasvrou nie daarin glo om kos te bedien in papierborde nie.  Terselfdertyd het elkeen 'n ordentlik mes en vurk gery.  Nadat almal opgeskep het het Henk ZS1AAD die tafel gebed waargeneem.  Die uwe het 'n paar "gevleulde" woorde hierna gespreek en Johann ZS1AAC het 'n oorsig vestrek oor die 145.750 en 145.625 herhalers, maar ook verduidelik wat daar vir die toekoms beplan word tov herhalers, toerusting, koppellings ens.  Opmerklik was die warm handeklap van almal teenwoordig vir al die harde werk wat Johann en sy span lede verrig om te verseker dat die herhalers op die lug bly.  Herhaler werk is n ondankbare werk wat nie altyd maklik en dadelik kan geskied nie.  Johann het mooi verduidelik wat herhaler werk behels en ek dink dat almal nou 'n baie beter begrip het in die verband.  

Die besoekers het almal lekker gesmul aan die smaaklike middag ete.  Dit was dan natuurlik ook die stilste periode van die dag want die innerlike moes eers versterk word sodat daar verder gekuier en gesels kon word.  So tussen deur is die tafel vir 'n tweede keer besoek. Baie groot dank aan almal wat  behulpsaam was met die kos voorbereiding, verwerking en braai van die egte plaas wors.  Dit word opreg waardeer.  Met die innerlike versterk is daar weer verwoed gekuier want sien die son trek water en die weer was ook besig om te verander.

Nou die artikel sal nie volledig wees as ek nie melding maak van die volgende nie:

 Foto:  Rassie en Rola Pretorius van Stilbaai.

1.  Daar was 'n hele paar grys koppe, bleskoppe, goeie haarbedekkings ens.  Nee ek bedoel dit geensins lelik nie.  Ek wil nie uitsonderings maak nie maar ek dink dat dit nie korrek sou wees om nie melding te maak van die mees senior paardjie wat teenwoordig was nie.  Aan Oom Rassie ZS1RP en Tannie Rola Pretorius wil ons graag 'n spesiale dankbetuiging oordra vir hul teenwoordigheid by die byeenkoms.  Ons besef dat dit somtyds groot opoffering verg om byeenkomste by te woon.   Julle twee was die toonbeeld miskien nog beter, die voorbeeld vir ons almal wat daar teenwoordig was.  Dit was 'n voorreg om julle twee saam met ons te kon hê op die besondere dag.  Baie dankie vir julle opoffering in die verband.  Dit was so lekker gewees om julle na baie jare in persoon weer te kon sien.  Dankie ook vir die lekker gesels oor al die goeie herinneringe van die verlede maar ook die uitkyk en visie vir die toekoms.

2.  Daar was nog talle ander seniors wat teenwoordig was wat ook opofferings gemaak het om daar te kon wees.  Ek wil nie graag name noem nie want ek mag dalk iemand in die proses uitlaat.  Baie dankie dat julle ook teenwoordig was.  Ek weet dat daar van julle is wat ook onder moeilike omstandighede julle weg oopgesien het om saam te kon kuier op die dag.  Baie dankie aan almal van julle!

3.  Dan laastens maar nie die minste nie,  die twee jonge dames van Jasper en Natasha en natuurlik die jongste teenwoordig, nee nie Jasper en Natasha nie maar hulle twee dogters.  Ek glo hulle het dit ook geniet.   Nou ja kom ons beweeg so bietjie op in die jare en ons se dankie aan Bruce en Nechita.  Dit moet seker maar moeilik wees om so tussen die COOL "ou mense" rond te beweeg.  Ons vertrou dat julle ook die dag geniet het.

4.  Daar was geen "formele" aktiwiteite nie, want sien daar is nie 'n klub om te bestuur nie.  Geen Voorsitter, Onder Voorsitter,  Bestuurslede, Polisiemanne, Diktators, Skoorsoekers, Suurpruime ens. nie.  Net radio amateurs en nie radio amateurs, LV's en jong mense wat bymekaar gekom het om die dag saam te geniet.  Dieselfde konsep geld ook wat ander amateur radio bedrywighede aan betref insluitende die gebruik van die herhalers.  Die Suid Kaap Wenresep werk. Ek wil my verstout om te se dat dit is die ringting waarin amateur radio die toekoms in moet beweeg.  Vra maar vir die wat daar teenwoordig was en ook die wat graag daar sou wou wees.  Hulle sal dit kan beaam!

5.  Dankbetuiging:  Dit is altyd moeilik om te verseker dat mens nie iemand uitlaat of weglaat wanneer dit kom by dankbetuiging nie.  Daarom gaan ek dit kort en kragtig maak. Eerstens wil ek ons Hemelse Vader bedank vir die mooi dag asook die seeninge wat ons ontvang het op die dag om lekker saam met vriende te kon kuier. Tweedens 'n besonderse woord van dank aan Jasper ZS1WT en sy LV  Natasha en kinders vir al die opofferings / voorbereidings ens wat julle getref het on die dag vir ons 'n groot sukses te maak.  Dit word opreg waardeer!  Derdens sou dit uiters onvanpas wees as daar nie 'n dankbetuiging oorgedra word aan al die LV's (dames, gades, wederhelftes) nie.  Ek het reeds vermeld dat dit werklik met groot dankbaarheid en waardering is dat ek al die LV's wil bedank vir hulle teenwoordigheid.  Julle teenwoordighied word hoog op prys gestel.  Vierdens aan almal wat nie genoem is nie.  Ek weet nie wie dit almal is nie, maar 'n besonderse dank aan elkeen wat bygedra het tot die sukses van die dag. 'n Besonderse dank aan Henk ZS1AAD  vir sy reelings en ook vir van die foto's wat hy geneem het.  Fotos vertel 'n storie en sonder fotos sou die artikel maar vervelig gewees het.

'n Besonderse dank ook aan Dolf ZS1DRP en Lynnore ZS1DPW vir hul teenwoordigheid op die dag. Hulle het Vrydag laat vanaf die Kalahari af terug gekeer en besluit om die byeenkoms by te woon.  Ongelukkig was hulle nie teenwoodig vir die groepsfoto nie weens die feit dat hulle om verstaanbare redes later opgedaag het.  Niks wat inlas fotos nie kan regstel nie.  Dolf aan jou en Lynnore dankie dat julle die opoffering gemaak het om by ons aan te sluit.  Ons sou graag langer wou kuier maar daar sal sekerlik weer 'n geleenheid in die toekoms wees.

Dankie aan almal wat teenwoordig was.  Sonder julle sou dit nie dieselfde gewees het nie. Dan aan die talle radio amateurs wat graag daar wou wees maar weens omstandighede nie teenwoordig kon wees nie.  Sien julle volgende keer en moet nie weer so 'n geleentheid misloop nie!  Julle het 'n besonderse byeenkoms gemis.  Ons sien daarna uit om julle by die volgende geleentheid te sien en te ontmoet.  Kom ons kyk of ons nie die huidige rekord kan breek met die volgende byeenkoms nie.

6.  Laastens maar nie die minste nie.  Wat word bedoel met 'n Geskiedkundige Byeenkoms van Radio Amateurs in die Suid Kaap.  Na my beste wete was daar nog noot so 'n groot en genotvolle byeenkoms van Suid Kaapse radio amateurs nie.  Ons mag nie vergeet van die gades wat teenwoordig was nie.  Hul bywoning en bydrae tot amateur radio is ook geskiedkundig in die Suid Kaap.  Dit was en is werklik verblydend om so baie LV's by die bymekaarkoms te sien asook hulle spontane deelname en ondersteuning. Dankie aan al die dames vir die opofferings wat julle gemaak het asook bywoning. 


'n Nuwe bywonings rekord is ook opgestel vir Suid Kaap Radio Amateurs, Gades en Besoekers: 

So bietjie statistiek:  

Totale Persone teenwoordig op die dag:  30 

Totale Suid Kaap Radio Amateurs teenwoordig op die dag:  20

Ek is bewus van talle radio amateurs wat daagliks op die Aasvoelkop herhaler inskakel dmv Echolink en wat in ander provinsies woonagtig is wat ook graag die byeenkoms sou wou bywoon.  Dankie aan julle wat vooraf beste wense gestuur het vir die dag en ook aangedui het dat julle in die gees saam teenwoordig sal wees. Julle wense word waardeer en in 'n toonbeeld van die amateur radio gees wat  heers in die Suid Kaap.  Wie weet miskien eendag dan ontmoet ons van aangesig to aangesig.  Niks is onmoontlik nie!

Soos dit maar gaan kan die lekker kuier nie verewig aanhou nie en so teen 15h00 het die eerste besoekers wat ver moes ry gegroet en vertrek na hulle tuistes toe.  En was daar nou behoorlik blad geskud nie, party sommer twee keer want sien ons weet nie wanneer ons mekaar weer van oog tot oog gaan sien nie.  Gelukkig is daar amateur radio en gaan ons mekaar gereeld hoor op die lug. So al kan ons mekaar nie gereeld in lewende lywe sien nie, maak amateur radio dit moontlik om kontak te behou.

Al wat oorbly is om te vra wanneer is die volgende byeenkoms van die klomp dinamiese radio amateurs, gades en jongmense in die Suid Kaap?

Fotos (Klik op fotos om te vergroot)

En so het almal lekker saam gekuier!!













































Video:  Dames uitstappie na die Gouritz Rivier



Closure of this ZS Link Network Blog - 29 April 2026

This will be the final posting on the ZS Link Network Blog. This blog will no longer be updated but will remain available for research an...