Friday, January 9, 2026

"Down Memory Lane" = PEARS VHF/ UHF Kompetisie Januarie 2005 Gizmo Amateur Radio Forum ZS1GZ Deelname

 

Die groot dag (22 Januarie 2005) het aangebreek. Dit is vroegoggend en die son het nog nie sy kop uitgelig oor die Suid Kaapse Kus nie. Ek maak vinnig ’n koppie “boeretroos” en kyk na die weerberig op die Internet. Dinge sal vinnig hierna moet gebeur want die tyd staan nie stil nie en daar is nog heelwat take wat gedoen moet word. Nadat al die huishoudelike takies afgehandel is, is dit tyd om koers te kies na die St Blaize Uitkykpunt waar die Gizmo Amateur Radio Forum beoog om deel te neem aan die beste “VHF/ UHF” Kompetisie in Suid Afrika.

My motor is reeds die vorige aand gepak en nadat ek die nodige verversings in my koelsak gepak het, kies ek koers na die bedieningsgebied. Die spoed is maar stadig aangesien die “rooi Ferrari” maar swaar gelaai is met al die goeters wat so ’n kompetisie benodig. Sowat 1km vanaf my huis is dit tyd om te roep op 145.525 Mhz Simplex om te hoor waar die ander manne is.

Eerste op frekwensie is Francois ZS1Q wat reeds in Mosselbaai is en sterk oppad is na die bedieningsgebied. Danie ZR2GE en Johan ZR1EJ is kort op Francois se hakke met die “shack” (Dit is nou ‘n volledig toegeruste karavaan). Tien minute later maak almal hulle opwagting by die St Blaize Uitkykpunt (bedieningsgebied) in Mosselbaai.

Die son breek deur die wolke en is dit na my mening ‘n perfekte dag vir deelname aan die kompetisie. As u die gebied ken sal u weet dat die wind jou hier uit jou geloof uit kan waai. Almal bewonder vir ‘n oomblik die asemrowende uitsig. (sien foto).

Die atmosfeer is “electric” en is dit duidelik dat die manne gereed is vir aksie. Alhoewel die bedieningsgebied seker een van die beste “UHF/VHF” gebiede is in die Mosselbaai area, speel toestande en propogasie ‘n groot rol. Ek het maar so stil stil in die agtergrond gehoop dat ons darm ‘n paar kontakte sal bewerkstellig aangesien plaaslike belangstelling maar aan die yl kant is.

Daar word naastiglik afgepak en eerste op die lys is die antennas en maste wat in die lug moet kom. Elke operateur is ‘n spesifieke band aangewys en word daar naastiglik gewerk om alles gereed te kry en op die lug te kom. Tyd speel ‘n groot rol en moet dinge vinnig gebeur. Eerste gereed vir aksie is Francois ZS1Q wat die HF stasie verskaf het. Ja, ons het ‘n volledige HF Stasie ook op die lug gehad. Dit was duidelik dat Francois nie baie gelukkig was met ons oprigting prosedures nie, en het hy dit dan ook baie duidelik gemaak. Hy het darm kom hand bysit en was dit nie lank nie of alle antennas was in die lug.

Die “shack” het hierna aan die beurt gekom en is die eerste kontak presies om 7.38 met OK Van ZR2VAN gemaak. Van se stasie was in Port Elizabeth. Wat hierna volg was pure adrenalien en outomatisme, want sien die “pad” na die Baai was oop en terwyl dit die geval was, moet mens soveel kontakte as moontlik maak. O! ja asof die manne geweet het dat die toestand goed was, maak Keith ZS1YC sy opwagting. Hy laat ook nie op hom wag nie en neem stelling agter die mikrofoon in. Keith werk die stasie behoorlik aan die brand en word daar spottenderwys verwys dat sy ervaring deur die jare tot sy voordeel strek. Kontakte word ook bewerkstelling op 6m met Barry ZR2DX en Al ZS2U. Die volgende uur of twee vlieg behoorlik verby. Wel die opening duur nie vir lank nie en dit raak weer stil op meeste van die bande. Nou was dit tyd vir ontbyt.

Na ‘n deeglike tradisionele ontbyt van spek, eiers en sterk swart koffie is die manne gereed om weer die mikrofone op te neem. Tussen deur word daar kort kort kontak gemaak. Die “stil” tyd is gebruik om toetse uit te voer op verskeie bande met verskeie antennas. Danie ZR2GE se 2M 2BCX antenna (Sien artikel in die uitgawe) wat die vorige aand inderhaas voltooi is, word nader getrek en soos ons dit in die geweste noem “GE -SWR”. Vir die wat nie verstaan nie , die SWR word gest el en nagegaan.

Ek hou van die uitdrukking dat die antenna “GE -SWR” word. Klink of daar ‘n operasie van die een of ander aard ui tgevoer word op die antenna. Danie ZR2GE en Johan ZR1EJ onderneem die takie. Heelwat word in die periode geleer omtrent die antenna en sy werking.

Intussen maak Johan ZR3J en Donald ZR1RT hulle opwagting. Die manne was behoorlik gewapen met toetsinstrumente en digititale kamera. Weereens word daar lekker koffie gemaak en so tussen deur die koffie en kuier deur word die SWR van die 70 cm Antennas nagegaan deur Johan ZR3J met sy MFJ Analiseerder en gepaardgaande toerusting. Die manne okkupeer ‘n tafel en daar word ferm gedebateer
oor die effektiwiteit van die onderskeie antennas. Donald lê natuurlik al die bewyse vas op sy digitale selfoon kamera. U wil weet wat was die uitslag. Korrek die antennas was aanvaarbaar vir amateur radio gebruik in aggenome dat die antennas tuisgebou was.

Francois ZS1Q het na sy koffie drinkery voor die HF mikrofoon ingeskuif en vir ons ‘n “lesing” gegee oor hoe effektief die Icom 706 saam met die G5RV antenna en ‘n tuisgeboude instemmer funksioneer. Hierna is daar gepoog om kontak te bewerkstellig met die Wes-Kaap, maar sonder enige sukses.

Francois ZS1Q het hier die leiding geneem en het sover gegaan om per telefoon vir Ettienne ZR1— in Worcester te kontak. Ettienne het ‘ n tydelike baken opgestel, maar was alles pure verniet.

Toestande het ‘n algehele laagtepunt bereik en het die weer drasties verander, want sien ‘n frontale stelsel was sterk oppad na Mosselbaai.

Gekuier was daar gewis wanneer daar nie veel aktiwiteite was op die onderskeie bande nie. Daar is gesels gelag, geskerts en sommer net gekuier en ja u is reg… amateur radio…..was die onderwerp. As ek vir u hier alles moet meedeel sal ek sekerlik ‘n boek kan skryf. Die horlosie het so stadig begin aanskuif na middagete se kant toe en het Johan ZR1EJ so ongemerk ‘n vuurtjie opgemaak. Kort voor lank
was die kole gereed en het die skaaptjoppies en bees fillette geknetter op die rooster. Die manne het behoorlik weggelê en gesmul. Na middagete maak Michael ZS2GMT en Don ZS1ADJ hulle opwagting.

Daar word weer van vooraf gekuier. Michael en Don gesels oor die ou dae toe ‘n stasie opgerig is tydens die 1988 -Dias Fees. Herinneringe is talryk en word daar ook met eerbied verwys na die wat reeds stil-sleutel geraak het.

Tussen die geselsery deur maak lede van die publiek ook hulle opwagting. Vrae wissel van wat maak ons hier. Die geleentheid word aangegryp om amateur radio bekend te stel. ‘n Kort oorsig word gegee en is dit opmerklik dat die besoekers uit Gauteng wel op een of ander staduim gehoor het van amateur radio.

Of ’n saadjie gesaai is sal ons maar moet sien. Die son is besig om so stadig water te trek terwyl die wolke onrusbarend verbysnel met die wind wat skielik omgeswaai het en al hoe sterker waai. ’n Storm was in aantog en is daar be sluit om teen 16H00 die stasie “af te breek” maar nie voordat nog ’n lid van die publiek die stasie besoek het
nie. Na kennisname stel ek vas dat die besoeker die vader is van Bernie van der Walt ZS4TX. Daar word lekker gesels maar kort voor lank was dit tyd om te groet. Met alles ingepak en weggepak, was elkeen oppad na sy onderskeie woning.

Wat ‘n genotvolle dag was dit nie. Elkeen teenwoordig het die hoop uitgespreek dat daar in die toekoms meer sulke dae gereël sal word en dat die Forum voort sal gaan met die oprigting van veldstasies.

Was dit die moeite werd. Wat se vraag is dit?……….Dit was meer as die moeite werd gewees!!!!

Die plaaslike koerant (Mossel Bay Advertiser) het op 4 Februarie 2005 ’n berig met ‘n foto geplaas oor die Gizmo Amateur Radio Forum se bedrywighede op die dag. My dank aan die Advertiser in die verband. Diegene wat nie die artikel gesien het nie, kan die redakteur kontak vir ‘n afskrif.

Laastens maar nie die minste nie. Baie hartlik dank aan elke radio amateur wat die geleentheid moontlik gemaak het. Ek gaan nie elkeen by die naam noem nie, julle weet wie julle is. Met sulke radio amateurs en vriende kan ‘n mens ’n pad loop. Dit was en is vir my ‘n voorreg om die dag met elkeen van julle te gedeel het.

Sonder julle bydrae sou die dag nie moontlik gewees het nie. Hartlike dank ook aan PEARS vir die reël van die kompetisie. Of ons sleg of goed gevaar het in die kompetisie is irrelevant. Amateur Radio het as wenner uit die stryd getree.

HOE LYK DIT MET 2006? FORUM-LEDE: KOM ONS DOEN DIT NOG BETER EN GAAN VOLUIT OM DIE KOMPETISIE TE WEN!!!

JA, U IS REG - DIT IS ‘N UITDAGING AAN PLAASLIKE KLUBS EN PLAASLIKE RADIO AMATEURS. KYK OF JULLE DIE GIZMO FORUM KAN KLOP IN DIE 2006 KOMPETISIE.
SIEN EN HOOR JULLE IN 2006.

Einde.

Fotos (Klik om te vergroot.)

 Foto Bo: Antennas word opgerig met die rooi “Ferrari” in die voorgrond.


Foto: Antennas in die lug gereed vir aksie. Min het ons geweet dat daar werklik aksie sou
wees.

Foto: Keith ZS1YC (Nou SK) wys die manne hoe dit gedoen moet word terwyl Francois ZS1Q
al die koffie uitdrink.

Foto : Francois ZS1Q, Donald ZR1RT en Johan ZR3J besig met 70 cm toetse.

Foto : Danie ZR2GE besig om die karavaan se gas-toevoer na te gaan terwyl Johan ZR1EJ die stasie bedryf. Francois ZS1Q kyk staande toe.

Foto: Keith ZS1YC, Johan ZR3J, Francois ZS1Q en Donald ZR1RT

Foto: Agter aansig van die stasie (Gesien vanaf die weste kant)

Foto: Van die manne geniet middag ete.  Links na regs -  Danie ZR2GE, Johan ZR1EJ en Francois ZS1Q.

Foto: Volle vooraansig van die ZS1GZ Gizmo Amateur Radio Forum Kompetisie stasie opgerig te St Blaize, Uitkykpunt, Mosselbaai 22 Januarie. 2005

Kennisgewing: 145.550 Mhz RF Link afgeskakel vir die duur van die PEARS VHF / UHF Kompetisie (9 - 11 Januarie 2026, Vrydag 18h00 SAST tot Sondag 14h00 SAST)

Kennisgewing: Die naweek vind die PEARS VHF / UHF Kompetisie plaas.  Die kompetisie maak gebruik van die 145.500 tot 145.575 Mhz FM vir die ...