Saturday, December 31, 2022

Terugblik op die Verlede / Down Memory Lane “OSRAM BERG TYDREN” 14 AUGUSTUS 2004 deur Johan Terblanche, ZS1I

Die taaiste en veeleisendste tydren in Suid Afrika? Ja, dit is hoe baie deelnemers die “Mountain Trail” tydren bestempel wat jaarliks in die Aliwal-Noord, Barkly-Oos omgewing gehou word. Ek het die jaar die voorreg gehad om as waarnemer deel te vorm van ‘n span radio-amateurs wat verantwoordelik was vir kommunikasie tydens die tydren.  Ek praat hier van die Bloemfontein
Radio Amateur Klub.


 Dennis Green, ZS4BS, was die hoof-organiseerder gemoeid met radio kommunikasie. Hy het dan ook stelling ingeneem by die tydrenkoofkantoor wat ’n uitsig gehad het oor die Garieprivier (sien
foto hierbo).

Vervolgens ’n opsomming van gebeure: Vrydag, 13 Augustus 2004 so ongeveer 15:30 begin die 145.750 Aliwal-Noord-herhaler skielik te lewe terwyl een vir een radio amateur in-rapporteer. Hulle
gesels lekker met mekaar soos wat hulle mobiel raak vanaf Bloemfontein in die rigting
van Aliwal-Noord. Die manne is in ’n gemoedelike stemming en die opgewondenheid in hulle stemme is duidelik hoorbaar. OK Nico, ZS2N, van Aliwal-Noord verwelkom elkeen op die herhaler en gesels die manne onafgebroke tot hulle aankoms.

Die herhaler raak stiller soos wat elkeen sy oornagfasiliteite binnegaan en regmaak vir aand-ete. Natuurlik die gebruiklike braaivleis en kuier om die vuur. Net na 18:00 vertrek ek en Nico, ZS2N, na die tydren hoof-kantoor om blad te skud met Dennis, ZS4BS. Met ons aankoms is Dennis besig om die die HF-antenna op te trek en kort voor lank kon die finale toets gemaak word om te sien of alles reg werk.  Die HF-stasie het bestaan uit ‘n tuisgeboude Dipoolantenne, Yaesu FT-77 met
bypassende kragbron en SWR-meter. Die 2 meterstasie was in die vorm van die nuutste Icom V8000 met 75 watt uitsetkrag.  Net voordat ons wou vertrek maak Martin, ZS4MS, sy opwagting en word die vertrek uitgestel met 10 minute. Nico gee hierna te kenne dat hy sy toerusting wil
gaan pak aangesien ons vroeër die volgende oggend wil vertrek na spesiale trajek nr. 4 nl. Bottlenek.

Al die toerusting was so teen 21:30 gepak en was ons gereed vir die volgende dag se opwinding.
Intussen het die tydrenwerktuigkundiges ook nie op hulle laat wag nie en is finale
verstellings gemaak aan motors wat kort-kort gebrul het in die strate van Aliwal-Noord.

Dit is Saterdag 14 Augustus 2004.  Motors brul en bande fluit soos die manne gereed maak om te vertrek na die eerste trajek. Ek en Nico, ZS2N, vertrek teen 07:15, maar op pad merk ek dat daar so
twee blokke weg van Nico se QTH digte swart rook die lug in trek en dat dit vinnig
vermeerder. Ons besluit om ondersoek te gaan instel en tot ons verbasing was ’n lapa
aan die brand by een van die huise. Brandblussers (let wel nie die brandweer nie want die brandweerwa se battery was pap) was reeds op toneel, besig om die vlamme te probeer blus. Hulp kon nie verleen word nie en is daar besluit om koers te kies na spesiale trajek 4 Bottlenek.

Dit was ’n koel oggend maar die weer was besonders goed vir die tyd van die jaar, in ag genome dat die area wel bekend is vir sy koue weer en sneeustorms. Nietemin het ons besluit om
genoeg warm baadjies saam te neem aangesien ons na ’n gebied toe op pad was, wat bekend is daarvoor dat die weer in ’n ommesientjie kan verander. Dit was teerpad tot in Barkly-Oos, daarna grondpad in die rigting van Rhodes. Nico het sy eie tydren gery. Sy nuwe voertuig moes klippe
en slote trotseer en was die laaste herstelwerk aan die pad seer sekerlik so 5 jaar gelede gedoen. Hi Hi!!


Ja, julle dink ek is besig om te oordryf.  Geensins nie want twee ondersteunings-voertuie het op die R396 omgeslaan. Gelukkig is niemand ernstig beseer nie. Na die strawwe grondpadrit arriveer ons uiteindelik by die begin van spesiale trajek Nr. 4.  Gou is daar uitgepak, maar nie voordat ons
die dik baadjies aangetrek het nie, want wat ‘n lekker oggend was, het toe verander met ‘n yskoue wind wat rooi stof orals laat opslaan het. Die antenna mas is staangemaak en die G5RV-antenna
opgetrek (let wel geen 2 m-kommunikasie is vanaf die trajek moontlik met die tydrenhoofkantoor nie.)

Die Kenwood TS-570S is staangemaak, maar O...wee.. die antenna wil nie instem nie (Murphy of Spike het saamgery.) Die G5RV is laat sak en ‘n verstelling gemaak, want kyk dinge moes
nou gebeur aangesien die eerste motors reeds in aantog was. Daar is weer probeer instem en die keer was alles reg net voordat ons die “back-up” B25-radio wou gebruik. Maar dit was nie die einde van “Murphy of Spike” nie. Geen kontak kon met die tydren hoofkantoor gemaak word nie. Na so ‘n paar “benoude” roepe maak Dennis, ZS4BS, sy opwagting met ‘n 9+ sein.

Kort voor lank sou die tye begin inrol wat deurgegee moes word na tydrenkontrole. Ons kon nou regtig die warm koffie en toebroodjies geniet net voordat die trajek ‘n aanvang neem. Die
“marshals”, tydrenmotors, nooddienste en toeskouers daag op en was dit nie lank nie
of nog meer stof en sand trek deur die lug soos die manne spook om weg te kom. Tye
word verkry vanaf die trajekkoördineerder en deurgegee na Dennis, ZS4BS. ‘n Spesiale versoek word ontvang vanaf die tweede in bevel van die tydren dat beide ek en Nico tussen die vertrekpunt en die HF- stasie ‘n tweede radio moet gebruik ten einde kommunikasie ten alle tye daar te
stel in die lig van die twee ongelukke op pad na die trajek. Hierna beman Nico die HF-
stasie terwyl ek 2 meterkommunikasie hanteer tussen die wegspringpunt en die HF-stasie. ‘n Helikopter asook goed toegeruste noodvoertuig maak hierna hulle opwagting, maar gelukkig was dit die einde van die ongelukke en was daar nie van hulle dienste gebruik gemaak nie.

So vinnig soos die voertuie gekom het, het hulle ook weer vertrek en kort voor lank was dit tyd gewees om die stasie “af te breek”. ‘n Beroep is gedoen deur die tweede in bevel om veilig terug te bestuur en dit is toe ook wat Nico gedoen het , want oppad terug het ons die plekke gesien waar
die twee ondersteuningsvoertuie die pad verlaat het. Bande, dakreëlings, glasstukke en merke was duidelik sigbaar.

Die Aliwal Noord herhaler was net buite Barkly Oos weer hoorbaar en het ons verrigtinge so met
die terugry na Aliwal Noord gevolg. Alles het vlot verloop en na so ‘n uur en ‘n half se ry was ons weer terug by die beginpunt van die tydren. Daar is besluit om by die eindpunt van die laaste trajek bymekaar te kom en die sneltrajek saam te geniet.  Verskeie radio amateurs het hier by ons
aangesluit en is daar lekker gesels en geskerts. Nabetragting is ook gehou en was almal dit eens dat die kommuniksie foutloos gehanteer was. Voorwaar ‘n pluimpie in die hoed van die Dennis,
ZS4BS , en die Bloemfontein Amateur Radio Klub. Julle kan trots wees. Amateurradio het ‘n baie belan-grike diens aan die gemeenskap gelewer. Doen so voort.!!

Die “2004 OSRAM Bergtydren” is verby en was dit nie vir my moontlik om by elke trajek aan te doen en blad te skut met die aangewese radio amateurs nie, iets wat ek graag sou wou doen. Tyd laat dit nie toe nie... of ..... Wie weet dalk verkry ek ’n borg om so te doen in die “2005 MOUN-
TAIN TRIAL”

Hoe lyk dit Dennis, is daar plek in “CAR 0” dan kan daar volledig verslag gedoen word en foto’s geneem word van alle betrokkenes. HI HI !!!

LAASTENS: Kan iemand dalk vir my sê wie die tydren gewen het? ...........Toemaar ek weet!!!



Red ZS:  2004 OSRAM Mountain Trial It is said that the Mountain Trial is the toughest motor rally in South Africa. Johan ZS1I, attended the 2004 OSRAM Mountain Trial with his brother-in-law Nico, ZS2N.

Johan gives a run-down of the rally activities from a radio marshal’s point of view. Johan and Nico manned the start of special stage 4 – Bottelnek.

Radio amateurs of the Bloemfontein RAC (and previously Bloemfontein Branch) have provided radio communications for the past 22 years.

- Radio ZS  (October – December 2004)


Can one see Auroras (Southern Lights) in South Africa?

Aurora Australis (Southern Lights) over Simons Town. Picture: Hassaan Tanvir During a recent discussion on the "Sonsak Span Amateur Rad...