Foto: John ZS1ZR saam met van sy mede amateur vriende. (middel aan hoof van tafel)
John Fletcher ZS1ZR se liefde vir die Tuinroete en spesifiek George het oor baie jare gestrek. Sy loopbaan as radio tegnikus by die Suid Afrikaanse Polisie het op George begin en het hy en Stan Jones ZS1T saam diens verrig in George. Latere jare is John opgekommandeer vir groter diens in Gauteng en as ek reg kan onthou het hy die rang van Brigadier beklee ten tye van sy aftrede in die SA Polisie. Hy het egter sy liefde behou vir die George area en het hy en sy gade na aftrede weer terug verhuis na George toe. John het 'n groot liefde gehad vir die tuinroete area, vir golf speel (agter wit ballejies aanloop soos hy dit gestel het), vir visvang vanaf die rotse en natuurlik vir amateur radio.
John die mens wat ek geleer ken het was nederig, 'n ware heer en natuurlik 'n humorsin wat by baie amateur radio byeenkomste 'n sterk inslag gevind het onder sy mede radio amateurs. John het ook 'n oophand gehad wanneer dit kom by amateur radio toerusting. Voordat hy na 'n aftree oord verhuis het, het hy van sy oortollige amateur radio toerusting tydens amateur radio byeenkomste wegegee, ja geskenk aan ander radio amateurs. Ek hoef nie veel meer oor John die mens te se nie want bostaande is 'n goeie aanduiding van John die "Gentleman".
Hiernaas volg 'n paar uitreksels van bydraes wat John gelewer het tydens amateur radio byeenkomste in die Tuinroete:
25 Januarie 2020 - John ZS1ZR, George:
- Spark Plug herwin uit die See.
- Philips Tweede Wereld Oorlog Flitslig.
- Rubber Patroon. (Oor die rubber patroon mag ek nie die storie hier vertel nie. Die manne het dit baie geniet en behoorlik aan John se lippe gehang.)
Fotos: Klik op fotos om te vergroot
Foto hierbo: John ZS1ZR (Heel links voor)
19 Oktober 2019 - John ZS1ZR, George:
Soos altyd het John die manne sommer weer lekker laat skaterlag met ‘n staaltjie uit die verlede. Hy het ons vertel van hoe hy destyds bevordering ontvang het in die SA Polisie vanaf ‘n trapfiets na die gebruik van ‘n motorvoertuig. Saam met die bevordering om ‘n motorvoertuig te bestuur het nuwe probleme ook opgeduik. Die voertuig is later toegerus met ‘n mobiele radio wat die dinge so ietwat moeiliker gemaak het. Een daarvan was dat jy heeltyd beskikbaar moet wees want daar is nou ‘n radio waarmee kontak gehou is. Hy het verduidelik dat hulle 300 km tydens ‘n skof moes afle en hoe daar toe te werk gegaan is om dit vinnig te bewerkstellig. Die manne het sommer lekker gelag oor die metode. Hy het ook vertel hoe hulle te werk gegaan het om die twee rigting radio te laat klik of dit sein verloor. Weereens het die manne lekker gelag oor die vindingryke metodes wat net ‘n jong man kon uitdink om ‘n ouer man te flous. John het ook vertel hoe daar destyds toestemming van sy werkgewer verkry moes word om te kon trou. Glo dit as jy wil, n mede werknemer is vanaf Pretoria gestuur om ‘n onderhoud met sy toekomstige vrou te voer en dan ‘n verslag op te stel voordat toestemming verleen is. Vandag klink dit maar baie snaaks maar dit is hoe dit van melewe was. Ernstige sake!!
Die manne geniet duidelik John se vertellinge en almal luister baie aandagtig waarna die manne ook met gereelde tussenposes uitbars van die lag. Net die regte medisyne vir die gees en natuurlik wat ons vandag so brood nodig het. Ek kan nie in diepte ingaan op John se vertellinge nie en daarom moet julle die Koffie Drink geleenthede bywoon om dit te beleef en te ervaar.
17 Augustus 2019 - John ZS1ZR, George:
Tydens ons tussen deur gesprekke het radio aktiwiteite na vore gekom. John het verduidelik dat hy nou letterlik en figuurlik werklik radio aktief is. John is een van ons deelnemers wat met elke geleentheid ons laat skaterlag tydens die Koffie Drink geleenthede. Wel die keer was weereens die geval en het hy ons vertel van sy werks ervaringe in die 60’er jare op George, Wilderness en omgewing. Hy het aangedui dat hy daardie jare baie vertroud was met die werking van ‘n trapfiets en dat dit deel gevorm het van sy werks verpligtinge. Dit was vir hom regtig niks snaaks om Wilderness en omgewing vanaf George vir werk te besoek met die trapfiets nie. Hy was jonk en boonop sommer lekker fiks gewees. Hy het ons vertel van hoe klein George was daardie jare en dat daar nog geboue van daardie era vandag bestaan. Hy het almal laat skaterlag met al die kwinkslae wat hy vertel het. Ek gaan dit nie hier vermeld nie en die wat nie daar by die koffie drink was nie het nou ongelukkig uitgemis op die fyner vertelling van sy wedervaringe van vroeer jare op George en omgewing. John, dankie jy het behoorlik die manne se lagspiere oefening gegee en ook hulle ‘n terugblik gegee van melewe se dae op George. Dankie dat jy ook jou weg oopgesien het om die koffie drink geleentheid by te woon.
22 Junie 2019 - John ZS1ZR, George:
John was verantwoordelik dat die manne se lagspiere oefening gekry het. Dankie daarvoor John dit het die manne sommer lekker laat lag en ons kort van meer lag – VHF Radio in die Suid Kaap.
So kan ek vele meer staaltjies vertel van die groot bydrae wat John ZS1ZR gelewer het tov Amateur Radio in die Suid Kaap en Tuinroete area.
Ons gaan jou werklik baie mis. Jou sleutel mag stil geraak het maar die herinneringe sal ons altyd by bly.
Rus in Vrede, John Fletcher ZS1ZR.