Monday, April 29, 2024

Kom ons bou "Rokkie Antennas" saam met Christi ZS4CGR

Nou wat op aarde is 'n Rokkie Antenna? Christi ZS4CGR van Luckhoff verduidelik.


Rokkie Antennas

(Deur Christi Grobbelaar ZS4CGR)

Ook bekend as die 'Lady with the skirt' en oorspronklik as Avanti_AV101.

Ek het in 1993 by ’n CB maat van my, die afmetings van hierdie antenna gekry (27MHz). A.g.v. die goeie rapporte wat met die antenna ontvang was, het ek besluit om vir my een te bou. Daardie eerste "rokkie" gebruik ek vandag nog, sonder enige probleme. Ek het destyds in Wellington gebly. In 2004 het ons verhuis na ’n plaas Noord van Aggeneys en in 2005 na Bloemfontein. Daarna in 2007 na Luckhoff en al die pad was die antenna in gebruik. Toe ek hom laas jaar wou gebruik, was daar fout. Die voëltjies het besluit om die skerm se draadjies uit te ryg om mee nes te maak. Nadat die 'foutjie' herstel was, tot vandag toe, werk hy 100%.

Klik op fotos om te vergroot.



In 1995 het ek die amateur eksamen geslaag en kort daarna het ek die destydse 5 wpm geslaag en toegang gekry tot die 10m band. Die gevolg was dat ek besluit het om ’n 10m rokkie te bou. Met daardie antenna (wat ek ook nog het) het ek binne ’n jaar 107 lande op 10m gewerk.

Die boere gemeenskap van Agter Groenberg in Wellington, het gevra ek moet help om hulle plaaswag stelsel weer aan die gang te kry. Die sukses met die 10m rokkie het my goed tepas gekom en ek het die 11m rokkie geskaal na 29MHz. Van hierdie antennas het ek ’n hele paar ge-installeer op die plase in die distrik.

Nadat ons na Swartbas (plaas) op die Oranje rivier bo Aggeneys getrek het, was ons aangewese op die plaaslike Marnet stelsel en het ek die eerste 67MHz rokkie gebou. Ook daardie antenna is tans operasioneel. Van hulle het ek sowat ses gebou en toe moes ek weer een skaal vir 74MHz vir die plaaslike Marnet herhaler. Van hierdie verskillende rokkies is daar tans vier operasioneel op die plaas.




Na die sukses destyds met die antennas wat ek geskaal het, het die gedagte by my ontstaan: Wat van 2m? Ek was toe nog in die arbeidsmag en het toegang gehad tot die meganiese werkswinkel naas ons werkswinkel. Ek het die antenna geskaal en omdat dit nou relatief klein was, kon ek nie die nodige versterkings aanheg in die struktuur nie, maar, geen probleem, die werkswinkel het al die nodige aliminium sweiswerk vir my gedoen.

 


Van my huis in Wellington was die 650 (du Toitskloof) herhaler binne sig en nou kon ek lekker speel. Die 650 was so 7° bo die horison, ongeveer 10km van my af. Die MFJ het sy werk gedoen en nou vir toets. Het dit gewerk? Kon ek die herhaler trek? Nee! Nou wat nou? Dink, dink, dink, krap hier lees daar, nou wat nou? Kom ons probeer, haal die 'top-hat' af. Pragtig, kry die herhaler. Sit hom terug, niks. Gevolgtrekking. Die hoed druk die sein so plat teen die horison dat die sein onder die herhaler lê. Dis waarom die groter antennas so goed werk. Die hoed gee 'wins' en dit is rondom, nie net in een rigting nie. Baie tevrede het ek op die ou end die rokkie op my boekrak gesit en hanteer as ’n ornament. Dis nou tot laasweek. Terloops, ZS1Z het so twee weke gelede weer vir hom een van 'my' 10m rokkies gebou en hy werk CW SOTAs laat dit hop.

Met die dat Zayn ZS3VO daar in Orania in die laagte so sukkel om Vanderkloof te herhaler te bereik, het die 2m rokkie weer in gedagte gekom en het ek na ’n paar verbeterings hom vanmiddag getoets. ’n Half meter van die grond af, met my getroue Baofeng, 10m RG-58, het ek die herhaler getrek en die antwoord op my 7100 duidelik kon hoor.

Sommer met die MFJ getoets, lê die SWR onder 1.2 tussen 141-148MHz.

Ek dink ek is tevrede.

 

Tot op hede het ek reeds sowat dertig verskillende rokkies gebou.




73

 

ZS4CGR uit Luckhoff.


NS Redakteur -  Die antenna is ook bekend as die "Ou Vrou se Rok" of die Avanti Astro Plane.  Die 11 meter antenna is in die tagtiger jare deur Kenward Avanti, Kaapstad verkoop.

 




 

Maintenance: Amateur Radio Mast at the Coast

  Over a period of time I noticed that one of my radio masts (Ex Wind Turbine Mast) was showing signs of rust where two pipes were welded to...