Foto hierbo - Slegs ter illustrasie.
ZS1I Opmerking: Ons het gistermiddag 'n baie insiggewende en leersame "Lippeklap" Net op die GRHub Netwerk - ZS1I-L gehad. Die onderwerp was:
"Hoe hanteer jy Phase 6 Beurtkrag in jou HOK en Woning? Voorsien jy dat beurtkrag gaan afneem of toeneem? Kom gesels lekker saam oor die twee vrae. Ek weet beurtkrag is al holrug gery maar dit beinvloed ons almal en glo ek dat ons kan leer by en van mekaar oor hoe om dit te hanteer en te versag of heeltemal te systap! Na afloop van Lippeklap sal ek die volgende PDF Artikel beskikbaar stel: Opbou na Son Energie en Onafhanklikheid - Saamgestel deur Christi Grobellar ZS4CGR. Baie dankie aan Christi vir die artikel en goeie raad!!
Die "Lippeklap" Net het vir meer as twee ure geduur en nog was dit einde niet. Daar is derhalwe besluit om die onderwerp in die toekoms verder te bespreek. Moet nie die volgende "Lippeklap" Net misloop nie.
Baie dankie aan al die 19 stasies wat ingeskakel het. 'n Besondere dank aan die deelnemende stasies wat 'n waardevolle en leersame bydrae gelewer het. Dit word opreg waardeer.
73
Johan ZS1I
Opbou na Son Energie en Onafhanklikheid deur Cristi Grobbelaar ZS4CGR
PDF available: HERE
My pad na son energie het in 2004 begin. Ons was van plan om op die banke van die Oranje Rivier bokant Aggenys ’n plaas te koop. Op die grond was nog nooit twee bakstene op mekaar nie. Kaal landelike grond, 6500Ha groot.
Ek het my eerste panele 2x70W gekoop teen R2500, drie tweedehandse 104Ah batterye en ’n 400W 'ou tipe' omsetter. Vir ’n jaar was dit ons enigste energie. Daarmee het ons een rekenaar kon bedryf vir maks. een uur per dag. Drie florescent 8W kar 'lead lights' was ons lig in die drie army tente wat ons 'huis' was. Stoof en karavaan vries kassie was op gas. Warm water uit die donkie was net wintertyd nodig. Terloops, somer temperature in die skaduwee het 48°C bereik en in die tente tot 57°C. So teen 3h soggens het die temperatuur onder 32° gedaal en kon ons gou bietjie slaap voor die son weer opkom.
Hierna het ek vir drie jaar in die landbou gewerk en toe stuk-stuk getrek na die familieplaas waar ons nou voltyds woon.
In 2006 het ek begin speel met alternatiewe warm water stelsels (wat ons nou nog gebruik). Swart PVC klas drie 25mm pyp, 200m lank, opgerol en bedek met tonnel plastiek (teen wind -wat so 4j hou- foto). Geen opgaar houer nie, die druk van die watertenk voer die pyp en ons moet sorg dat ons voor sononder klaar bad en stort. Dag temperatuur van die water is byna konstant op 75°C, heel bruikbaar, heeljaar deur, behalwe op swaar bewolkte dae (omtrent 7 dae per jaar), dan gebruik ons warm water uit ’n 50ℓ geysertjie wat van die sonstelsel af warm gemaak word. Ons het tans ook 'blou pype' vir die kombuis en veldstort. Warm water is hier volop.
Dit is die agtergrond.
Net eers hoe al my son panele werk. Ons panele is in 'bondeltjies' gebou oortyd, op ’n middel paal (pivot) sodat as die paneel regop staan die onderkant so 300mm van die grond af is. Hulle kan dus roteer. Dan kan die rame waarop hulle gebou is ook vertikaal gekantel word. As hierdie dubbel beweegbare metode gebruik word, lewer elke paneel tot 160% van ’n vas gemonteerde paneel se krag (dus eintlik ’n besparing is panele). Tans het ek agt individuele 'bondels'.
En ja ek verstel hulle met die hand omdat ek die tyd het en die oefening nodig het. As ons weggaan, draai ek hulle Noord tot ons terugkom.
Hier is my huidige 8 + 3 bondels:
2x 70W 12V Voer lood-suur batterye vir radio’s en ander 12V toerusting
2x 80W 12V Voer LiPO batterye en 5kW omsetter
2x 80W 12V Voer LiPO batterye en 5kW omsetter
6x 80W 12V Voer LiPO batterye en 5kW omsetter
6x 80W 12V Voer LiPO batterye en 5kW omsetter
2x 325W 24V Voer LiPO batterye en 5kW omsetter
4x 180W 12V Voer LiPO batterye en 5kW omsetter
2x 170W 12V Voer lood-suur batterye vir radio’s en ander 12V toerusting
1x 335W 24V Op karavaan dak foto
1x 225W 24V Op bakkie 'canopy'
1x 170W 12V Op bakkie 'canopy'
Hierdie 'bondels' was een-een aangeskaf, nie alles gelyk nie. Op die oomblik is die maks. lewering so 2.2kW. Ek het baie lank gewerk met ’n motor battery bank van tot 15 batterye. So 3 jaar terug het ek ’n ou lood-suur 48V stelsel geskenk gekry, maar die 2V selle (24 selle) het nie ’n jaar gehou nie, waarna ek besluit het om oor te gaan op LiPO batterye. Omdat ek nie die LiPO batterye geken het nie, was ek geadviseer om 2x 3.7kW batterye te installeer, maar toe ek gaan sit en my somme maak, het ek die verskaffer gekontak en dit vermeerder na vier. En net ’n maand later het ek nog twee by gekoop, dus ses batterye van 3.7kW. Totaal nou 22kW. Terloops, 2.2kW bron vir 22kW batterye? Dit werk,
so 3½ uur se vol son en my laaier skakel af, alles is vol. En in bewolkte weer hou alles so drie dae voordat ek die Lister se hulp moet inroep.
Nou hier kom ’n interessante punt. Ek het gou agtergekom dat ek steeds nie genoeg rugsteun krag het na my sin nie, maar nog twee batterye sou meer as R30k kos, wat ek nie wou uitgee nie. Lank geloop en dink. Sien, ek het ’n gas yskas wat teen 300W konstant loop (die koste van gas was ’n groot deel van die motivering om oor te gaan op LiPO). Dit beteken 19kg gas per maand teen ongeveer R500/m. Maar die ou yskas kom al amper 15j saam met my en werk goed. Na heelwat dink het ek besef dat die uitweg was om die yskas te vervang i.p.v. batterye te koop. Die nuwe yskas gebruik net 80W en is nie konstant aan nie. Dit het 'veroorsaak' dat ek ook ’n kas vrieskas by gekoop het wat ook net 80W benodig. Die twee saam het minder as een battery gekos en verder nog R500/m se gas bespaar. ’n Goeie kompromie en my krag benodig het omtrent halveer.
Al ons gedagtes moet die volgende patroon volg: as jy nie jou inkomste kan vermeerder nie moet jy jou uitgawes verminder en as ek om my rondkyk, sny sal ons moet SNY.
Vir ’n stoof gebruik ons meestal ’n twee plaat stofie, ’n Elektriese plastiese ketel gebruik minder energie as ’n glas/metaal ketel omdat ek nie die glas/metaal hoef te verhit nie.
En hier is ’n wenner. Koop vit jou LV ’n nuwe druk-kook-pot die elektroniese soort. Hoekom? Want hy werk op 2bar druk (i.v.m. die oues wat op 1.2bar werk), maak taai vleis binne minute sag en gaar en gebruik baie minder krag en tyd as enige ander metode. Voordeel? Die LV 'smile'. Wat wil ’n LV hê? Warm water in die badkamer (en kombuis) en ’n gerieflike kombuis (en baie tyd vir haarself).
Nou kom ons by beligting.
Op Swartbas (plaas) het on 'lead lights' gebruik teen 8W elk.
Op Klein Kortlaagte (plaas) kon ons nie die 'luxury' bekostig nie. (tussen die twee het ek al my kapitaal 'verloor' deur 'diefstal'). Hier, het ek begin met een loodsuur battery (hier is ’n Lister, maar diesel kos geld) en kon dus nie die gewone ligte aandryf nie. Ek het ligte 'gemaak', ek het plastiese versierings-balle met fasette gekoop (O.D. 30mm), ’n gaatjie in geboor en ’n wit LED daarin monteer, drie in ’n ry met ’n weerstand vir stroom beheer en siedaar, hy werk van 12V af en gebruik 20mA. Gou was die hele huis 'belig'. Toe die 'strip LEDs' op die mark kom (of het ek dit ontdek?), het ek sistematies al die ou LED-balle vervang. Teen 50mA per lig. Ons het lank so gewerk, ons kon alles sien en doen wat nodig was. Laas jaar het ek op ’n verbetering afgekom. ’n Vriend wou sy neon lig vervanging (LED strip) waarvan die glas gebreek het weggooi, gou het ek hom oortuig om dit vir my te gee. By die huis het ek die krok met 'cable ties' op ’n 'dowel rod' vasgetrek nadat ek dit getoets het en hy werk nou nog in ons werkkamer (18W). Dit het my weer op ’n ander idee gebring. Ek het vir my van die neon vervangings buise (8W) gaan koop, ou geblaasde lampe se bajonet stert afgehaal en bedraad op die LED buis. Nou hang hulle vertikaal in die plek van gewone lamp aanhegtings en dit werk goed.
Nou-ja, dit alles kom oor die verloop van 18 jaar, sien, dis nie nodig om ’n hoop geld op een slag uit te gee nie, maar maak net ’n begin, dit sal self kleintjies kry (nes radio’s en antennas, Hi!
Groete
Christie Grobbelaar ZS4CGR