Friday, October 17, 2025

Suid Kaap Herhaler Geskiedenis - Periode 1966 tot 2025 (Deel 1)

Bo:  Die W6MEP-herhaler, oorspronklik K6MYK, word beskou as die oudste ononderbroke werkende amateur radio herhaler wat bestaan, met sy eerste uitsending in 1956. Dit is gebou deur Art Gentry, wat as die "Vader van Amateur Radio Herhalers" beskou word.

RED.  Stan Jones ZS1T was vir baie jare gemoeid met die installering en instandhoudng van herhalers in die George / Mosselbaai omgewing.  Die artikel soos deur hom saamgestel gee vir ons 'n terugblik van hoe 2 Meter aktiwiteite toegeneem het deur die jare.  My opregte dank aan hom vir die artikel.  Ek is seker dat lesers dit baie interessant sal vind.

STAN ZS1T SKRYF: “Ek het Desember 1966 na George toe gekom. Ek het op daardie staduim nie ‘n 2 Meter stel besit nie. Twee meter was in daardie jare nie so gewilde manier van kommunikeer nie. Hier was net ‘n paar radio amateurs gewees nl myself, Chris ZS1FA, Rusty ZS1WQ, Tom Watson (roepsein nie meer beskikbaar nie), Stan French ZS1YD, Bill ZS1J, Dennis ZS1UV, Piet ZS1ZK. Dup ZS1GC het later by ons aangesluit. Die ledetal het so gegroei en het ons maar op HF gesels. Stadig maar seker het 2 Meter sy kop uitgesteek. Ek het by ‘n sekere Mnr v.d. Walt, ‘n klompie 15 watt PYE stelle gekry wat toe beskikbaar was. Ons moes natuurlik die frekwensie verander om by ons behoeftes te pas. Die frekwensie was 145.500, wat ons op daardie staduim gebruik het. Ander radio amateurs het beskikbare stelle gekoop, soos dit beskikbaar geraak het.
John Fletcher (ZS1ZR) het by my eertydse werk aangesluit en later die amateur radio eksamen geskryf. Hy is die roepsein ZR1CI toegeken. Ons het met toetse begin, versterkers gebou met 5894 of 829B lampe en saans met Andre ZS2BR in Port Elizabeth gesels. 

 

Bo:  PYE Cambridge Radios (15 Watt) - PYE Telecom History Group (Klik om te vergroot)

Op ‘n staduim is herhalers bespreek en het die gebruik van herhalers na vore gekom. Ek het by Derek Siegel ZS1DP ‘n PYE CAMBRIDGE stel gekry wat ons omskep het in ‘n herhaler. Nou kom die beste, die slyp van die kristalle. Ek het in ‘n ou Radio Amateur Handboek gelees hoe Amerikaners kristalle geslyp het. ‘n Stuk glas is gevat asook baie fyn sandpapier. Die kristal is uit sy doppie gehaal en dan versigtig geskuur tot die regte frekwensie verkry is. My werk het ‘n frekwensie teller gehad wat dit natuurlik maklik gemaak het om die regte frekwensie te verkry. Die skuurwerk moes natuurlik baie versigtig gedoen word. Die kristalle wat ons gebruik het was nie ver van die frekwensie af nie. So het ons eerste herhaler op 145.800 MHZ die lig gesien. Die herhaler is later ook toegerus met ‘n “G” kode maw die letter “G” is in morse kode uitgestuur. (Red. G staan natuurlik vir George) Die “G” kode is later verwyder, aangesien ‘n versoek ontvang was van radio amateurs dat ek dit moet doen. Op ‘n staduim was ons versoek om die frekwensie te verander na 145.700 MHZ aangesien die 145.800 Mhz frekwensie vir satelliet komunikasie gebruik sou word. Ons het maar redelik rondgeval om ‘n geskikte plek te kry vir die herhaler. Ek was op ‘n staduim versoek om na die olieboor se FM toerusting om te sien. Die toerusting was op die George berg in Eskom se gebou. Voordat ek die toerusting kon versien moes ek ‘n sekerheidsklaring by Eskom kry. Die sekerheidsklaring
is aan my toegeken en het Dave Perry ZS1SG van Eskom my gevra dat wanneer ek na die olieboor se toerusting omsien ek dan ook na hulle stelle sal kyk. So het die moontlikheid ontstaan om die herhaler in Eskom se gebou te kry. Ek het vir Dave Perry genader, waarna hy met sy departement geskakel het. Die groen lig is gekry en is die PYE herhaler met twee gevoude dipool antennas daar geinstalleer. Die SAUK het egter ontdek dat daar ‘n vreemde stel naby hulle stasie was en moes die herhaler eers weer verwyder word. Dave Perry het sy departement genader wat aandui het dat hulle een van hul stelle (Storno) daar sal installer vir gebruik deur radio amateurs. Die naam “Eskom Radio Club” is aangebring op die Storno en is die 145.700 Mhz herhaler vandag nogsteeds in gebruik op die George berg. Ek het later ‘n adres gekry van ‘n firma in Engeland vanwaar ek kristalle bestel het teen R5.00 per kristal afgelewer. Dit was vir die PYE stelle wat ons bekom het. 


Bo:   Voorbeeld van die Mobiele Storno Herhaler (10 Watt) soos geskenk deur TAK: BOLAND (Klik om te vergroot)

Later soos die amateur lede toegeneem het, het die behoefte vir ‘n tweede herhaler onstaan in die Mosselbaai omgewing. Ek het met Rassie ZS1YT in verbinding getree en ons behoeftes verduidelik. Hy het met die destydse TAK BOLAND gesels en het hulle toe vir ons ‘n Mobiele Storno Herhaler (145.600 MHZ) laat kry. Die herhaler is tydelik by die QTH van Johan ZS1I geinstalleer. terwyl ‘n geskikte perseel vir die herhaler gesoek was. Ek het later om persoonlike redes toe afstand gedoen van die 600 herhaler. Die Garden Route Radio Klub wat toe gestig was het die herhaler oorgeneem. Ek weet nie wie almal betrokke was by die installering van die 145.600 MHZ herhaler op Mosselbaai nie, maar ek dink dat Chris ZS1M toestemming gekry het vir die perseel te Danabaai. Amateurs het beter stelle aangeskaf soos dit beskikbaar geraak het. Dit in kort die ontstaan van 2 Meter aktiwiteite in die Suid Kaap omgewing.

Later jare het Eskom sy eie tegniese afdeling in George geopen. Met die gevolg dat hulle toe ook die 145.700 MHZ herhaler se herstelwerk en versiening oorgeneem het, so ook die olieboor se radio kommunikasie. 


Bo:  1958 Motorola stel die Motrac-radio bekend, die eerste tweerigtingradio vir voertuie met 'n volledig getransistoriseerde kragtoevoer en ontvanger. Die lae kragverbruik maak dit moontlik om die radio te gebruik sonder om die motor se enjin te laat loop.

Nou so ‘n kort oorsig oor die toerusting wat die S.A Polisie vroeër jare gebruik het. Toe ek in die Suid Kaap begin werk het, het die toerusting bestaan uit 50 Watt Motorola “T/POWER” stelle. Die frekwensie was in die 37 Mhz band gewees. 


 Bo:  Motorola “T/POWER” 50 Watt Radio

Bo:  Motorola Micor Radio en Herhaler (100 Watts)

Hiedie stelle is heelwat later met Motorola “Motrac” stelle vervang en ook later met Motorola “Micor” stelle. Ek het gedurende my dienstermyn begin met eksperimente met herhalers vir die S.A. Polisie. Ek het later ook magtinging verky om voort te gaan met die installering van die herhaler. Die herhaler het bestaan uit ‘n basis stel wat hooggleë was. Die Poskantoor het vanaf die bestaande ligging ons van ‘n telefoon lyn tot by die polisiestasie voorsien waar dit gekoppel was aan ‘n afstandsbeheerde monitor. Hierdie stelsel het baie goed gewerk tydens my dienstermyn. Die stelsel is egter vervang na my dienstermyn met ‘n meer moderne en gevorderde stelsel in die BHF band op die SAUK perseel op George berg.

-Einde


Suid Kaap Herhaler Geskiedenis - Periode 1966 tot 2025 (Deel 1)

Bo:  Die W6MEP-herhaler, oorspronklik K6MYK, word beskou as die oudste ononderbroke werkende amateur radio herhaler wat bestaan, met sy eers...