Tuesday, July 22, 2025

Rekord Byeenkoms van Radio Amateurs / Gades / Jongmense te Blandsdrift, Mosselbaai (Saterdag 19 Julie 2025)

Foto:  Ontwerp en saamgestel deur Natasha vd Westhuizen LV van Jasper ZS1WT


Radio Amateurs, Gades en Jongmense: (Links agter tot Regs voor op grond)  Johan Terblanche ZS1I, Jan Leonard ZS1CBS, Danie Leonard ZS1DL, Jasper vd Westhuizen ZS1WT, Nico van Rensburg ZS1ZAN, Jimmy Haddow ZS1RB, Bryan King ZS1SSS, Mark Sanderson ZS1SSM, Elna Sanderson ZS1EAS, Vivian Lourens ZS1VIV, Jacobus de Jager ZS1JDJ, Gerrit Klopper ZS1KLO, Natasha vd Westhuizen (Gasvrou), Nick Smit ZS1NS, Thys Louw ZS1TBP,  Daniel Swart ZS3DS, Francois Joubert ZS1Q, Johanna Joubert (LV), Lisa Blank (Dogter ZS1MMB), Gerhard Coetzee ZS1TG, Eddie Scott ZS1EGS, Elize van Rensburg (LV),  Kevin Thurling ZS1ABU, Ingrid Lourens (LV), Anne-Marie Klopper (LV), Angelique Klopper (Dogter),  Louisa Smit (LV), Marlise Swart (LV), Caro Neu (LV), Marco Neu ZS1NEU, Albie Wentzel ZS1SE, Ingo Berger ZS1IB, Danie Joubert ZS1DBJ, Nicolene Becker ZS1HAR, Johann Becker ZS1AAC, Michael Blank ZS1MMB, Rassie Pretorius ZS1RP, Rola Pretorius (LV), Martha Terblanche (LV), Larissa vd Westhuizen, Linelle vd Westhuizen (Dogters ZS1WT) en Janeke de Jager (Dogter ZS1JDJ).  Fotograaf: Debbie Blank


Radio Amateurs:  Eddie ZS1EGS, Vivian ZS1VIV, Jan ZS1CBS, Johan ZS1I, Jimmy ZS1RB, Danie ZS1DJ, Nico ZS1ZAN, Francois ZS1Q, Bryan ZS1SSS, Jasper ZS1WT, Gerhard ZS1TG,  Gerrit ZS1KLO, Nick ZS1NS, Danie ZS1DBJ, Thys ZS1TBP, Ingo ZS1IB, Daniel ZS3DS, Mark ZS1SSM, Marco ZS1NEU, Keverne ZS1ABU, Rassie ZS1RP, Nicolene ZS1HAR, Johann ZS1AAC,  Albie ZS1SE, Elna ZS1EAS, Jacobus ZS1JDJ en Michael ZS1MMB.

English PDF version available HERE

Die byeenkoms van Suid Kaap radio amateurs wat bekend staan as die ZS-Link Netwerk Groep op Saterdag 19 Julie 2025 was 'n rekord byeenkoms en sal aangeteken word was die grootste byeenkoms  tot op hede van radio amateurs ooit in die gebied.  Die byeenkoms het plaasgevind op die plaas Blandsdrift, Mosselbaai van Jasper ZS1WT en Natasha (LV) met hulle  twee jonge dogters Larissa en Linelle.  As gasheer en gasvrou het die Van Der Westhuizen's hulle weereens oortref.  Ons kon nie gevra het vir 'n beter plek om 'n byeenkoms te hou nie.  Baie dankie aan Jasper en Natasha vir hul gasvryheid en natuurlik ook vir die talle reëlings wat hulle getref het om alles glad te laat verloop.

Foto:  Jasper en Natasha vd Westhuizen (Gasheer en Gasvrou van  die byeenkoms)

Die plaashek het om 09h00 geopen vir besoekers.  Voor die tyd was daar verskeie voertuie oppad na die byeenkomplek en het die Aasvoekop Herhaler (145.625 Mhz) behoorlik gegons.  Die manne en vroue was opgewonde en kon nie wag om mekaar weer in die oë te kyk nie.  Voor ons deur die plaashek beweeg het was ons oppad verras deur talle wilde diere wat nuuskierig na die besoekers gestaar het.  Van die diere:  Tarentale, Ganse, Verskeie Wildsbokke, Blou Kraanvoels en natuurlik twee van die groot vyf wat sommer neffens die grensdraad rustig gestaan en wei het. 

Die son het effens laat sy kop uitgesteek weens 'n mis-lagie maar dit was duidelik dat dit 'n perfekte 19 grade celsius dag gaan wees.  Net wat ons nodig gehad het, maar sou dit koud wees was daar altyd die groot staal stoor waar skuiling gevind kon word.  Dit was egter nie op die dag nodig nie.  Die besoekers het tussendeur opgedaag en teen 10h30 het die meeste reeds gearriveer en 'n stoele lager getrek voor die staal stoor in die lekker oggend son.

 

Besoekers was getrakteer deur Natasha met koffie, tee of 'n lekker koppie warm sop, broodjies, koekies, beskuit en muffins.  Sommige besoekers het nie tyd gehad vir ontbyt nie en kon hulle die innerlike behoorlik versterk vir die dag.  Dit was ook nie lank nie en die bedien tafels het behoorlik gepryk met al die slaaie en broodjies wat vir middagete genuttig sou word.


Na die aankoms van Johann ZS1AAC en Nicolene ZS1HAR is die ZS Link Netwerk Groep Naamplaatjies wat vooraf bestel was uitgedeel sodat almal vinnig mekaar kon leer ken.  Daar was immers 43 mense teenwoordig en sommige het mekaar vir die eerste keer ontmoet.  'n Spesiale woord van dank aan Natasha (ontwerper van die naamplaatjies),  Johann ZS1AAC, Nicolene ZS1HAR en Johannes ZS1XL vir hul bydrae tot die projek.  Daar word beplan om vorentoe nog naamplaatjies te maak en 'n aankondiging op die 625 WhatsApp groep sal gelegener tyd gemaak word.

Daar was ook 'n verassing wat Johann ZS1AAC bekend gemaak het.  Die ZS Link Netwerk Groep het nou ook 'n geleentheids banier danksy 'n briljante idee van Vivian ZS1VIV en ontwerp deur Natasha.  Viv het Vrydag oggend met die voorstel gekom en sommer ook gereel dat die banier gemaak word.  Die banier is deur Rassie ZS1RP en sy LV  Rola onthul wat al die pad vanaf Stilbaai gekom het.  Aan Oom Rassie ZS1RP en Tannie Rola Pretorius wil ons graag 'n spesiale dankbetuiging oordra vir hul teenwoordigheid by die byeenkoms.  Ons besef dat dit somtyds groot opoffering verg om byeenkomste by te woon.   Julle twee was en is die toonbeeld miskien nog beter, die voorbeeld vir ons almal wat daar teenwoordig was.  Dit was 'n voorreg om julle twee saam met ons te kon hê op die besondere dag.  Baie dankie vir julle opoffering in die verband.

Na die heerlike ontbyt was dit tyd om net lekker te sit en te gesels met mekaar maar dit was natuurlik ook tyd vir die vlooimark/kattebak verkoping want sien die een se "gemors" is die ander se "goud".  Toerusting het van hok verwissel en daar is gekyk en beduie, maar natuurlik ook so bietjie geredekabel oor die prys en funksionaliteit van die toerusting.  Daar was heelwat om van te kus en te keur en kort voor lank was van die tafels en kattebakke nie meer so "gepak" gewees nie.   Natuurlik is dit na ander kattebakke voor die LV's kon sien wat aangekoop was.


Fotos hierbo: "HF/VHF/UHF "Go-Box" met Xiegu G90 HF Radio en 'n  QYT Dual Band VHF/UHF Radio, USB Radio Koppelstuk vir Digitale Modusse, Luidspreker, Battery, Kragbron en verskeie ander toebehore.

Die volgende op die aktiwiteite lys was 'n demonstrasie deur Gerrit ZS1KLO en Michael ZS1MMB. Gerrit ZS1KLO het sy "Go-Box" of "Shack in a Box" wat hy gebou het gedemonstreer. Gerrit het aangedui dat hy die dra-tas saam met hom neem wanneer hy mobiel reis of wanneer hy 'n veldstasie wil oprig. Hy dui aan dat die draagbare hok in 'n harde tas goed werk en dat dit ook 'n ware aanwins is vir noodkommunikasie.  


Michael ZS1MMB het ook 'n demonstrasie gelewer van sy antenna driepoot wat hy gebruik vir draagbare radio aktiwiteite.  Hy het aangedui hoe maklik dit is om 'n antenna vinnig te monteer en dan te gebruik.  Die driepoot is lekker groot en sterk genoeg om ander antennas ook te huisves.

Die radio amateurs het behoorlik die "Go Box" en Antenna Driepoot ondersoek, vrae gevra en natuurlik ook uitgewerk hoeveel dit Gerrit en Michael uit die sak gejaag het.  Desnieteenstaande 'n goeie aanwins van beide die projekte in amateur radio.


Die tyd het nie stilgestaan nie en voor ons kon kyk was dit tyd vir die volgende demonstrasie.  Dit het behels hoe om SSTV uitsendings vanaf die Internasionale Ruimte Stasie (ISS) af te laai.  Wel die ISS het mooi saamgespeel en was daar 'n goeie verbyvlug om 11h58 SAST teen 'n maksimum elevasie van 56.2 grade elevasie op die plaas.  Die volgende radio amateurs het deelgeneem aan die demonstrasie:  Jacobus ZS1JDJ,  Gerrit ZS1KLO,  Nico ZS1ZAN

Hier is die prente/beelde wat afgelaai is:

Jacobus ZS1JDJ:


Toekenning ontvang vanaf ARISS:


Gerrit ZS1KLO:



Toekenning ontvang vanaf ARISS:

Opmerking:  Die bostaande prente is afgelaai dmv Robot36 wat op 'n selfoon geinstalleer is en 'n 2m Handstel met 'n "rubber duck" antenna.  Daar was groot belangstelling deur verskeie radio amateurs in die demonstrasie.  Hopelik neem heelwat nuwe radio amateurs deel aan die volgende SSTV uitsendings vanaf die Internasionale Ruimte Stasie. (ISS)


So het middagete aangebreek.  Marco ZS1NEU het die tafel gebed gedoen en is daarna behoorlik weg gele aan al die slaaie en worsrolle met die egte plaas boerewors daarin. Baie dankie aan VIV ZS1VIV en Jasper ZS1WT vir die braai van die wors.  Natuurlik was daar baie morele ondersteuning van ander radio amateurs by die braai vuur.

O! amper vergeet ek van die tuisgemaakte wors wat Jasper en sy dogters voorberei het.  Larissa een van Jasper se dogters het gesorg dat die vleis vir die lekker wors gemaal word.  Ja, 'n ware boere dogter wat pa en ma kan bystaan op die plaas.  Soos voorheen 'n besonderse smaak want net die beste skaap vleis is uitgekies tesame met die nodig vet en speserye.  Verhouding 60:40 en net reg vir die kole.  Smaaklik geen senings of uitheemse speserye nie.  Soos die boere van ouds wors kon maak.  Sag en sapperig.  Moet se ek dink nie daar het veel indien enige wors oorgebly nie.  Maar wag, van die dames het gesorg vir die aller lekkerste slaaie en worsbroodjies.  Die worsbroodjies is spesiaal ingevoer vanaf Stilbaai deur Johann ZS1AAC en Nicolene ZS1HAR, vars en lekker uitgebak.  Jy kon nie vir beter gevra het nie.  

Die besoekers het almal lekker gesmul aan die smaaklike middag ete.  Dit was dan natuurlik ook die stilste periode van die dag want die innerlike moes eers versterk word sodat daar verder gekuier en gesels kon word.  So tussen deur is die tafel vir 'n tweede keer besoek. Baie groot dank aan almal wat  behulpsaam was met die kos voorbereiding, verwerking en braai van die egte plaas wors.  Dit word opreg waardeer.  Met die innerlike versterk is daar weer verwoed gekuier want sien die son trek water.  

Na ete was dit tyd om die ZS Link Netwerk Groep Herhaler Fonds 'n hupstoot te gee.  Die manne, dames en jongmense se hande was behoorlik oop gewees.  Weet nie of sommige gedink het die betalings is vir die ete nie .... hi hi.  Die beursies was behoorlik oopgemaak. 

Eerstens was daar heelwat anonieme donasies ontvang wat tot die fonds toegevoeg is. Baie dankie aan almal wat 'n donasie gemaak het tot die fonds, in watter formaat ook al.  Julle bydrae word opreg waardeer.  

Tweedens was daar die verkope van  die Easy-Pull Muurprop Handvatsels.  Daar was behoorlik tou gestaan om van die handvatsels te bekom.  Die muurprop handvatsel maak dit maklik om 'n muurprop uit die muur-eenheid te trek.  (Sien photos)

Die muurprop handvatsel was baie populêr op die dag maar ek dink almal het gewag vir die hoogtepunt van die dag nl. die gelukkige trekking van 'n Baofeng Radio Handstel.  Lootjies was verkoop vir R25 elk en was daar maar twyfel of ons die waarde sal opmaak van wat die radio gekos het. Daar is behoorlik tougestaan deur oud en jonk om kaartjies aan te koop. Baie dankie aan Danie ZS1DL wat die radio geskenk het om fondse in te samel vir die herhaler fonds.  Danie se skenking het to gevolg gehad dat die herhaler fonds 'n hewige hupstoot ontvang het.  In totaal is daar 53 kaartjies tydens die byeenkoms verkoop.  Die gelukkige trekking is waargeneem deur Natasha vd Westhuizen (gasvrou).  Lootjie Nr 21 is getrek en Francois ZS1Q was aangewys as die gelukkige wenner van die Baofeng Radio Handstel.


Fotos: 2m Baofeng Radio Handstel en Francois ZS1Q

Soos blits was die dag verby en was dit weer tyd om huiswaarts te keer maar nie voordat daar weer verwoed gekuier is nie.  Kort voor lank het die son begin verflou, 'n aanduiding dat daar huiswaarts gekeer moes word maar nie voor daar dankie gesê is nie.

Dankbetuiging:  Dit is altyd moeilik om te verseker dat mens nie iemand uitlaat of weglaat wanneer dit kom by dankbetuiging nie.  Daarom gaan ek dit kort en kragtig hou. Eerstens wil ek ons Hemelse Vader bedank vir die mooi dag asook die seëninge wat ons ontvang het op die dag om lekker saam met vriende te kon kuier. Tweedens 'n besonderse woord van dank aan Jasper ZS1WT en sy LV  Natasha en kinders vir al die opofferings / voorbereidings ens wat julle getref het on die dag vir ons 'n groot sukses te maak.  Dit word opreg waardeer!  Derdens sou dit uiters onvanpas wees as daar nie 'n dankbetuiging oorgedra word aan al die LV's (dames, gades, wederhelftes) nie.  Ek het reeds vermeld dat dit werklik met groot dankbaarheid en waardering is dat ek al die LV's wil bedank vir hulle teenwoordigheid.  Julle teenwoordigheid word hoog op prys gestel.  Vierdens aan almal wat nie genoem is nie.  Ek weet nie wie dit almal is nie, maar 'n besonderse dank aan elkeen wat bygedra het tot die sukses van die dag.  Dankie aan al die fotograwe. Fotos vertel 'n storie en sonder fotos sou die artikel maar vervelig gewees het.

'n Besonderse dank aan al die seniors wat teenwoordig was en wat ook opofferings gemaak het om daar te kon wees.  Ek wil nie graag name noem nie want ek mag dalk iemand in die proses uitlaat.  Baie dankie dat julle ook teenwoordig was.  Ek weet dat daar van julle is wat ook onder moeilike omstandighede julle weg oopgesien het om saam te kon kuier op die dag.  Baie dankie aan almal van julle!

Dankie aan almal wat teenwoordig was.  Sonder julle sou dit nie dieselfde gewees het nie. Dan aan die talle radio amateurs wat graag daar wou wees maar weens omstandighede nie teenwoordig kon wees nie.  Sien julle volgende keer en moet nie weer so 'n geleentheid misloop nie!  Julle het 'n besonderse byeenkoms gemis.  Ons sien daarna uit om julle by die volgende geleentheid te sien en te ontmoet.  Kom ons kyk of ons nie die huidige rekord kan breek met die volgende byeenkoms nie.

Besonderse dank ook aan Nico ZS1ZAN en Elize sy LV wat al die pad vanaf Zandfontein (Anysberge) gery het om die byeenkoms by te woon.  Nico en Elize het dan ook die verste rit onderneem om die byeenkoms by te woon.  Merkwaardig inderdaad en dankie vir julle teenwoordigheid.

Baie dankie aan almal wat bygedra het tot die herhaler fonds. 'n Ses syfer bedrag is ingesamel tydens die byeenkoms!!

Laastens maar nie die minste nie.  Wat word bedoel met 'n Rekord Byeenkoms van Radio Amateurs in die Suid Kaap.  Na my beste wete was daar nog nooit so 'n groot en genotvolle byeenkoms van Suid Kaapse radio amateurs nie.  Ons mag nie vergeet van die gades en jongmense wat teenwoordig was nie.  Hul bywoning en bydrae tot amateur radio is ook merkwaardig in die Suid Kaap.  Dit was en is werklik verblydend om so baie LV's by die bymekaarkoms te sien asook hulle spontane deelname en ondersteuning. Dankie aan al die dames vir die opofferings wat julle gemaak het asook bywoning.

'n Nuwe bywonings rekord is ook opgestel vir Suid Kaap Radio Amateurs, Gades en Besoekers: 

So bietjie statistiek:  

Totale Persone teenwoordig op die dag:  43 

Totale Suid Kaap Radio Amateurs teenwoordig op die dag:  27

Ek is bewus van talle radio amateurs wat daagliks op die Aasvoelkop herhaler inskakel dmv die ZS Link Netwerk en wat in ander provinsies woonagtig is wat ook graag die byeenkoms sou wou bywoon.  Dankie aan julle wat vooraf beste wense en verskonings aangestuur het vir die dag en ook aangedui het dat julle in die gees saam teenwoordig sal wees. Julle wense word waardeer en is 'n toonbeeld van die amateur radio gees wat onderling  heers in die ZS Link Netwerk Groep.  Wie weet miskien eendag dan ontmoet ons van aangesig to aangesig.  Niks is onmoontlik nie!

Soos dit maar gaan kan die lekker kuier nie verewig aanhou nie en so teen 15h00 het die eerste besoekers wat ver moes ry gegroet en vertrek na hulle tuistes toe.  En was daar nou behoorlik blad geskud nie, party sommer twee keer want sien ons weet nie wanneer ons mekaar weer van oog tot oog gaan sien nie.  Gelukkig is daar amateur radio en gaan ons mekaar gereeld hoor op die lug. So al kan ons mekaar nie gereeld in lewende lywe sien nie, maak amateur radio dit moontlik om kontak te behou.

Al wat oorbly is om te vra wanneer is die volgende byeenkoms van die klomp dinamiese radio amateurs, gades en jongmense in die Suid Kaap? 

Ek kan bevestig dat Jasper ZS1WT en Natasha (LV) reeds aangebied het dat die 2026 byeenkoms weer op Blandsdrift sal plaasvind. Verdere besonderhede sal mettertyd op die 625 WhatsApp groep geplaas word.

Laastens - Jasper ZS1WT skryf:  Soos die son lang skaduwees maak kom ons tot die einde van, wat ek dink n suksesvolle dag vir radio amateurs in die Suid Kaap was. Baie dankie aan elkeen wat moeite gedoen het en deel was van die hierdie besonderse bymekaarkoms van opgevoede mense. Nie een papiertjie wat rondlê of iets uit sy plek nie. Wat n voorreg om jul almal hier te ontvang het op Blandsdrift.

Fotos (Klik op fotos om te vergroot)

 












Friday, July 18, 2025

Jasper ZS1WT se 18 Meter Amateur Radio Toring nou staande te Blandsdrift, Mosselbaai. (Article in Afrikaans and English)


Radio Amateurs kan maklik uitgeken word wanneer 'n toring of mas met antennas hul verskyning maak op 'n eiendom.  Wel die afgelope week of twee was daar heelwat voorbereidings getref om 'n 18 meter toring staande te maak te Blandsdrift, Mosselbaai.  Die toring behoort aan Jasper ZS1WT en is op sy plaas Blandsdrift, Mosselbaai.

Nou kom ons kyk bietjie hoe is hierdie toring deur Jasper en sy skoonpa gebou.  Die bou van die toring het 'n paar maande gelede begin in een van Jasper se skure op die plaas.  Kyk gerus na die fotos en julle sal opmerk hoe die toring gebou is.  Vakmanskap en sweiswerk op sy beste.  Die yster vir die toring is met groot sorg uitgemeet, gesny en gesweis.  Seksie vir seksie is gebou oor 'n periode van 'n paar weke.  Nadat al die seksies (4) van die toring gebou is, is die staal versterkte beton raamwerk gebou waaraan die toring vasgebout moes word.  Die nodige gat is gegrawe en die raamwerk is in die gat geplaas waarna die beton blok gegiet is.  Klink sommer maklik en vinnig maar wees verseker talle berekenings, verskuiwings, gelyk making en waterpas lesings is geneem/gemaak om te verseker dat die toring stewig en regop staan. Nadat die beton gegooi was, moes dit vir 'n paar weke behandel word om dit tot volle sterkte te bring voordat die toring opgetrek kon word.

Wel die groot dag het aangebreek en was dit tyd om die toring regop te trek nadat twee antennas aan die toring vasgebout was. Die groen trekker het sommer vinnig en sonder enige inspanning die 18 meter hoe toring opgetrek.  Die nodig boude is vasgedraai en natuurlik is daar terug gestaan en die harde handewerk te aanskou en seker te maak dat die toring pen regop staan.

Kyk gerus na die fotos en videos want dit is nie aldag dat 'n mens 'n 18 meter hoe toring se bou en oprigting kan besigtig nie.  Soos ek reeds aan Jasper gese het, die toring lyk sommer heel indrukwekkend.  Wat n lekker gevoel na al die harde werk.  Baie geluk Jasper en daar staan hy nou.  Jy gaan sommer 'n hond uit 'n bos beduie met die toring en antennas wat jy gaan oprig.  Dankie ook dat jy die fotos en videos met ons as radio amateurs gedeel het.

                                                        xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

Jasper ZS1WT's 18 Meter Amateur Radio Tower now standing at Blandsdrift, Mossel Bay.

Radio Amateurs can easily be identified when a tower or mast with antennas makes its appearance on a property. Well, over the past week or two, a lot of preparations have been made to erect an 18-meter tower at Blandsdrift, Mossel Bay. The tower belongs to Jasper ZS1WT and is on his farm Blandsdrift, Mossel Bay.

Now let's take a look at how this tower was built by Jasper and his father-in-law. The construction of the tower began a few months ago in one of Jasper's barns on the farm. Take a look at the photos and you will notice how the tower was built. Craftsmanship and welding at its best. The iron for the tower was measured, cut and welded with great care. Section by section was built over a period of a few weeks. After all the sections (4) of the tower were built, the steel reinforced concrete frame was built to which the tower had to be bolted. The necessary hole was dug and the frame was placed in the hole after which the concrete block was poured. Sounds easy and quick but rest assured numerous calculations, shifts, leveling and spirit level readings were taken/made to ensure that the tower stood firmly and upright. After the concrete was poured, it had to be cured for a few weeks to bring it to full strength before the tower could be erected.

Well the big day arrived and it was time to pull the tower upright after two antennas were bolted to the tower. The green tractor quickly and effortlessly pulled the 18 meter high tower up right. The necessary bolts were tightened and of course Jasper stood back and watched the hard work and made sure that the tower was standing upright.

Please take a look at the photos and videos because it is not every day that one can see the construction and erection of an 18 meter high tower. As I already said to Jasper, the tower looks quite impressive. What a nice feeling after all the hard work. Congratulations Jasper and there it stands now. You are going to have a lot of fun with the tower and antennas that you are going to erect. Thank you also for sharing the photos and videos with us all as radio amateurs.

Fotos (Klik op fotos om te vergroot.)














Videos:






Tuesday, July 15, 2025

Raspberry Pi and the Elements of Nature


Image:  Field used Raspberry Pi with completely dust covered PCB, rusted and grass-embedded RJ45 and HDMI sockets, and other debris. Real time clock module features cobwebs and more grass. Recently disconnected Ethernet plug and cable  ......  still working!

Sunday, July 13, 2025

Belangrike Sekuriteitswaarskuwing aan Radio Amateurs / Important Security Warning to Radio Amateurs

Belangrike Sekuriteitswaarskuwing:

 
Soos julle almal weet, gebeur sekuriteits- en bedrogvoorvalle deesdae gereeld — van gekapte rekeninge en selfoonnommers tot vals boodskappe wat lyk of dit van bekende mense af kom. Ongelukkig is daar vandag weer nuwe gevalle in ons breër amateur radiogemeenskap gerapporteer.

Ons wil julle daarom net weer herinner om seker te maak dat jou persoonlike aanlyn sekuriteit in plek is en dat jy versigtig is met enige verdagte kommunikasie. Hierdie tipe aanvalle tref mense van alle ouderdomme en vlakke van tegniese kennis.

Wat jy nou kan doen om jouself te beskerm:
✅ Gaan jou Google-, e-pos- en ander belangrike rekeninge se sekuriteitsinstellings na
✅ Skakel twee-faktor verifikasie (2FA) aan waar moontlik
✅ Gebruik sterk en unieke wagwoorde vir elke rekening
✅ Wees versigtig vir ongewone of dringend klinkende boodskappe, selfs van mense wat jy ken
✅ Moenie op verdagte skakels klik of onbekende lêers aflaai nie
✅ Moenie persoonlike inligting via WhatsApp, e-pos of SMS deel nie
✅ Rapporteer enige verdagte kommunikasie onmiddellik aan die komitee sou dit lyk of dit van een van ons af kom.

Hoe misdadigers dikwels toegang verkry tot jou inligting:
– Vals e-posse of webwerwe wat jou vra om aan te meld op ’n vals webblad
– WhatsApp-boodskappe van “vriende” wat hulp of geld vra
– SIM-swap-bedrog – jou selfoonnommer word oorgeneem en gebruik om jou rekeninge oop te kry
– Gebruik van swak of herhaalde wagwoorde
– Skadelike lêers of skakels wat malware installeer

🔐 Wat doen ons as gemeenskap?
Ons neem hierdie risiko’s ernstig op en pas alle beskikbare sekuriteitsmaatreëls toe op die platforms wat ons gebruik. Jou persoonlike aanlyn veiligheid is egter jou eerste en belangrikste verdedigingslinie.

Laat ons saamwerk om mekaar te beskerm teen hierdie bedreigings. Deel asseblief hierdie boodskap met ander lede wat dalk nie op die groep is nie.

Bly waaksaam en veilig.


73


Boland Amateur Radio Klub Komitee

 

ED.   Dankie BARK vir die inligting.

 

English Version:

Important Security Alert:

As you all know, security and fraud incidents are common these days — from hacked accounts and cellphone numbers to fake messages that appear to come from well-known people. Unfortunately, new cases have been reported in our broader amateur radio community today.

We would therefore like to remind you once again to make sure that your personal online security is in place and that you are cautious with any suspicious communications. These types of attacks affect people of all ages and levels of technical knowledge.

What you can do now to protect yourself:
✅ Check the security settings of your Google, email and other important accounts
✅ Turn on two-factor authentication (2FA) where possible
✅ Use strong and unique passwords for each account
✅ Be wary of unusual or urgent-sounding messages, even from people you know
✅ Don’t click on suspicious links or download unknown files
✅ Don’t share personal information via WhatsApp, email or SMS
✅ Report any suspicious communication to the committee immediately if it appears to come from one of us.

How criminals often gain access to your information:
– Fake emails or websites asking you to log in to a fake website
– WhatsApp messages from “friends” asking for help or money
– SIM swap scams – your cellphone number is taken over and used to open your accounts
– Using weak or repeated passwords
– Malicious files or links that install malware

🔐 What are we doing as a community?

We take these risks seriously and implement all available security measures on the platforms we use. However, your personal online safety is your first and most important line of defense.

Let’s work together to protect each other from these threats. Please share this message with other members who may not be on the group.

Stay vigilant and safe.

73

Boland Amateur Radio Club Committee 


ED. Thanks BARK for the information.

Saturday, July 12, 2025

Aan HOK van Thanie ZS4AZ op die grens van Lesotho

Foto:  Die Lesotho berge in die agtergrond

Ek het die voorreg gehad om 'n besoek te bring aan die Vrystaat aan die begin van Julie 2025.  Op Woensdag, 2 Julie 2025 het ek en Nico ZS4N 'n besoek gebring aan Thanie ZS4AZ op 'n plaas wat 'n klipgooi gelee is vanaf Maseru, Lesotho.  Ek en Nico het reeds vroeg vetrek in die rigting van Ladybrand en het net so na 10h00 op die plaas gearriveer. Thanie het ons ingewag en natuurlik soos radio amateurs maar is is ons dadelik na die hok toe en het ons sommer lekker gekuier.  Ek wil graag vir Thanie bedank vir sy gasvryheid en gemak waarmee hy ons ontvang het.  Thanie is 'n man van vele talente en ek gaan net 'n paar hier opnoem:

1.  Elektrisien 
2.  Elektronikus
3.  Kunstenaar
4.  Versamelaar van klippe
5.  Ornament vervaardiger
6.  Bonzai liefhebber
7.  Tuinboukundige
8.  Plaasboer 
9.  Amateur Geoloog
10.  Amateur Edelsteen Kundige

en so kan ek aangaan en aangaan.  'n Veelsydige persoon inderdaad.  Thanie, dankie dat jy ons 'n geleentheid gebied het om 'n kykie te kry in jou wereld.  Ek is seker ons sou nog baie ander talente ontdek, maar was die tyd net te kort om dit te kon beleef.  Die onderstaande fotos vertel nie die hele storie nie, maar deel ek dit graag met ons lesers sodat julle ook 'n kykie kan kry in die lewe van 'n baie talentvolle man.

Fotos (Klik of fotos om te vergroot.)






















Friday, July 11, 2025

Opdatering: Byeenkoms van die ZS Link Netwerk Groep, Blandsdrift, Mosselbaai.

 


Opvolg:  16 Julie 2025 09h50 SAST

Reelings: Byeenkoms Saterdag 19 Julie 2025 te Blandsdrift Mosselbaai

1.  Hek open 9h00 SAST
2.  As jy sukkel met roete aanwysings roep op die 145.625 Mhz (88.5 Hz CTCSS) Aasvoelkop Herhaler.
3.  Onthou om jou eie stoele saam te bring.
4.  Bring asb jou betaling vir die ZS Link Netwerk Groep naamplaatjie saam.  Ons wil asb die betaling afhandel op die betrokke dag.  Betaling kan ook direk in die volgende rekening gemaak word.   Hierdie is die rekening besonderhede vir die wat via EFT wil betaal.  Fnb 62800836689 EN Becker. Die bedrag is R90.00 per naamplaatjie.  Onthou om jou roepsein aan te bring op die betalingsadvies.
5.  Daar sal ‘n gelukkige trekking wees vir ‘n draagbare radio.  Lootjies is beskikbaar teen R25.00 stuk.  Die fondse ge-in vir die loting gaan vir die ZS Link Netwerk Groep se herhaler fonds.  Onthou ons kan nie die trekking laat plaasvind as daar te min lootjie verkope is.  Baie dankie aan Danie ZS1DL wat die radio geskenk het.  Merkwaardige gebaar van Danie.
6.  Daar sal ook ‘n vlooimark wees.  Bring asb die toerusting wat jy nie meer nodig het nie saam. Daar is altyd iemand anders wat belangstel in die toerusting.  So maak bietjie daardie HOK en rakke skoon.
7.  Bring sakke vol geld saam.  Moet nie bang wees vir die LV nie.  Wanneer die vlooimark begin kan die LV’s ‘n besigtiging toer onderneem.  Maak net seker jy pak die nuwe toerusting iewers in die voertuig waar sy dit nie sal sien nie.  Ek se gewoonlik dit is goed wat ek wou verkoop maar daar was nie enige belanstelling nie, so ek neem dit maar terug huistoe!
8.  All aanduidings is dat die weer mooi gaan saamspeel op Saterdag.  So moet nie bekommerd wees oor die koue nie.  Daar is ‘n lekker stoor wat goeie skuiling bied sou dit nodig wees.

Kom geniet die dag saam met vriende en mede radio amateurs.  Die vorige byeenkoms was ‘n baie lekker en suksesvolle byeenkoms en ek glo die een gaan nog beter wees.

Sien julle daar! 

 

ZS-Link Groep – Bywoningslys – Saterdag 19 Julie 2025 te Blandsdrift, Mosselbaai

Die volgende persone het aangedui dat hulle die byeenkoms gaan bywoon.  Indien jou naam nie op die lys verskyn nie word versoek dat jy dit asb onderaan die lys op die groep plaas sodat dit  bygevoeg kan word op die finale lys.  DIE AFSNYDATUM IS VANDAG OM 17h00.  Ons moet asb weet wie die geleentheid sal bywoon ten einde die nodige reëings te tref.

1.  Francois ZS1Q en Johanna LV
2  Johann ZS1AAC en Nicolene ZS1HAR
3.  Nick ZS1NS en Louisa LV
4.  Mark ZS1SSM, Elna ZS1EAS en 2 Kinders
5.  Johan ZS1I en Martha LV
6.  Ingo ZS1IB en  Albie ZS1SE
7.  Gerrit ZS1KLO, LV en Dogter
8.  Rassie ZS1RP en Rola LV
9.  Nick ZS1ZAN en Elize LV
10.  Kevern ZS1ABU
11.  Daniël ZS3DS en Marlize LV
12.  Viv ZS1VIV en Ingrid LV
13.  Gerhard ZS1TG
14.  Jacobus ZS1DJD en Dogter
15.  Thys ZS1TBP
16.  Bryan ZS1SSS
17.  Danie ZS1DL en Annemarie  LV
18.  Jasper ZS1WT, Natasha en 2 Dogters
19.  Danie ZS1DBJ
20.  Michael ZS1MMB, LV en Dogter
21.  Jan ZS1CBS
22.  Jimmy ZS1RB
23.  Marco ZS1NEU en Caro LV

Verskonings:

1.  Nick ZS1N en LV
2.  Matt ZS1MDT
3.  Eben ZS1EP
4.  Bernie ZR1ACP

So lyk lys nou.  Enige byvoegings of veranderings? 


ONTHOU:  Saterdag 19 Julie 2025,   Amateur Radio Byeenkoms op die plaas Blandsdrift, Mosselbaai.

Moet nie die geleentheid misloop nie!!

Suid Kaap ZS Link Netwerk Groep 

Thursday, July 10, 2025

Titanic’s Lost Radio Room Found: What’s Still Inside?

Imagine hearing Titanic's distress signal after 113 years. Historical images and recreations bring the iconic ocean liner's last moments to life. Learn about the last sounds heard from the Titanic, the revolutionary SOS signal used for the first time, and the men onboard who sent those distress call that night.

Source:  History X 

ZS-LINK - DMR Bridge - ZS-HUB and 145.550 Mhz RF Link - BACK ON THE AIR!

KENNISGEWING:  Geliewe kennis te neem dat die Mosselbaai  DMR Brug (TG65511), ZS-HUB (ZS1I-R Echolink en 49355 Allstar) en die 145.550 Mhz RF Link  nodusse vanaf  9 Julie 2025 weer terug is op die lug na my besoek aan Bloemfontein.  Ek het die tyd in Bloemfontein vreeslik geniet en geen tyd op sociale media of my selfoon spandeer nie.  Vir amateur radio was daar ook nie veel tyd beskikbaar nie, maar ek het darm so 'n paar fotos geneem waarvan die artikels eersdaags op die Blog sal verskyn.  Dit is goed om weer terug te wees in Mosselbaai.

NOTIFICATION: Please note that the Mossel Bay DMR Bridge (TG65511), ZS-HUB (ZS1I-R Echolink and 49355 Allstar) and the 145.550 Mhz RF Link nodes are back on the air from 9 July 2025 after my visit to Bloemfontein. I really enjoyed my time in Bloemfontein and did not spend any time on social media or my cellphone. There was also not much time available for amateur radio, but I did take a few photos, the articles of which will appear on the Blog soon. It is good to be back in Mossel Bay.

Closure of this ZS Link Network Blog - 29 April 2026

This will be the final posting on the ZS Link Network Blog. This blog will no longer be updated but will remain available for research an...